Rus in vrede

Rus in Vrede Jan Harm du Plessis

Die Excelsior Nuus wil graag ons innige medelye en simpatie met die familie, vriende en kennisse van Jan Harm du Plessis betoon met sy skielike afsterwe op Dinsdag, 17 Julie.

Jan was ’n ou bekende in die dorp en is op 18 November 1957 gebore, op dieselfde erf in Piet Retief, waar hy en sy vrou, Isabel (Bella), tot op hede gewoon het. Hy was ook ’n Pietie in murg en been en het saam met sy vier sibbe (Nelie, Willem, Gerda en Adri) hier skoolgegaan.

Na skool is Jan weermag toe en hy het vir Bella deur gemeenskaplike vriende/familie ontmoet. Jan was vroeër jare bekend vir sy geel Jeep, Ouboet, wat hy self opgebou het. Daar is menige staaltjies wat vertel kan word van hoe hy skool gemis het om by sy boetie, Willem, se werkswinkel aan sy Jeep te gaan werk en dit is juis waar die geliefde geel voertuig sy naam “Ouboet” vandaan gekry het.

Hy het ook talle wedrenne met die “geel gevaarte” gewen en selfs Transvaalkleure daarvoor verwerf. Jan was ’n aantal jare werksaam by Potties Motors en het vanaf 1993 in die vervoer- en houtbedryf betrokke geraak.

Op die ouderdom van 27 het Jan sy eerste hartaanval oorleef! Sy gesondheid was daarna in puik kondisie tot twee jaar gelede toe hy weer ’n ernstige hartaanval gehad het. Sy gesondheid het wipplank gery en eers van die begin van 2018 af, het hy stelselmatig weer begin beter raak en sy skerp humorsin het bietjie-vir-bietjie teruggekeer. Jan is oorlede na ’n hartaanval agter die stuur van sy voertuig.

Dit was vir almal ’n geweldige skok aangesien hy die laaste drie maande weer sy ou self was. Hy het gery om sy werkers, wat besig was met ’n kursus, te gaan aflaai en soos wat hy weggery het van hulle af, het hulle gesien dat sy bakkie al hoe stadiger ry en toe van die pad af gaan.

Aanvanklik is die familie verwittig om hom te gaan haal want hy was te siek om verder te bestuur, maar Bella het ’n oproep ontvang van mense naby aan die meule by Greens, ’n winkel net na die Carolina afdraai, wat haar laat weet het dat daar inderdaad iets groot fout is. Jan laat sy eggenote, Bella en hul vier dogters, Leanie, Carla, Carike en Bianca na.

Hy was ook geseënd om oupa te wees van twee kleindogters, Isabella en Lisa en ’n kleinseun, Frans. Jan Harm du Plessis se Roudiens het op Dinsdag, 24 Julie 2018, omstreeks 11:00, vanuit die N.G. Gemeente in Piet Retief plaasgevind. Rus in vrede, Jan Harm du Plessis.


Piet Retief se mense sal altyd die oom onthou wat met die Land Rover rondgery het in die dorp en gereeld saam sy geliefde vrou in die Wimpy ’n koffie geniet het – ja, dit was Edwin Wartington.

Edwin Wartington is op 7 Maart 1934 in Piet Retief gebore en het op Sulphur Springs grootgeword. Hy het by die Landbouskool in Brits gematrikuleer en daarna teruggekeer Sulphur Springs toe waar hy op hul huidige plaas begin boer het. Hy is op 6 April 1957 met Annette Gresse getroud en hul het twee seuns gehad, Neil en Oelof.

Edwin Wartington is op 13 Julie 2018 aan hartversaking oorlede, maar hy het beslis ’n vol en geseënde lewe gehad. Hy laat sy eggenote, Annette, hul twee seuns, skoondogters, vier kleinkinders en twee agterkleinkinders na.

Sy Roudiens het op Saterdag, 21 Julie 2018, vanuit die N.G. Gemeente in Piet Retief, plaasgevind. Die Excelsior Nuus wil graag ons innige meegevoel betuig met die familie, vriende en kennisse van Edwin Wartington.