Ongeluk tussen twee vragmotors

twee vragmotors
Vragmotorbotsing op N2

Ongeluksverslag: Van Donderdag, 9 Augustus, tot Saterdag, 11 Augustus, is personeellede van die plaaslike Nooddienste, na drie ongelukke ontbied. Donderdag, 9 Augustus: Omstreeks 09:15, was daar ’n ongeluk tussen twee vragmotors op die Pongolapad.

Die drywers was albei onderweg na Pongola toe die bestuurder van die agterste vragmotor teen die voorste een bots. Na bewering, het die drywer van die agterste vragmotor nie betyds spoed verminder nie en na die botsing, het hy uitgeswenk en sy trok het tussen bome in ’n plantasie tot stilstand gekom.

Hy het slegs geringe beserings opgedoen. ’n Verbygaande motoris het die ongeluk gesien gebeur en weens skok het sy haar Isuzu bakkie se remme aangeslaan. Sy het beheer verloor en met nóg ’n vragmotor gebots, slegs ’n kort afstand van waar die eerste ongeluk plaasgevind het.

Sy het gelukkig geen beserings opgedoen nie. Vrydag, 10 Augustus: Die bestuurder van ’n Nissan bakkie het om 06:30, ’n bees getref op die Paulpietersburgpad, net voor die Commondale afdraai.

Die bestuurder van die Nissan het geen beserings opgedoen nie, maar kort na die ongeluk, het die bestuurder van ’n Toyota Cressida agter in die Nissan vasgery. Drie insittendes het ligte beserings opgedoen.

Saterdag, 11 Augustus: Die bestuurder van ’n Volkswagen Polo het omstreeks 12:00, onderweg na Piet Retief vanaf Pongola, ’n ongeluk probeer vermy en van die pad afgery toe twee vragmotors mekaar verbygesteek het.

Die VW Polo het in ’n sloot langs die pad tot stilstand gekom en drie vroulike insittendes het ligte beserings opgedoen. Mkhondo Nooddienste wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om lede van die publiek te vra om geduldig te wees wanneer hulle op ’n ongelukstoneel afkom.

Daar is ’n rede hoekom die area afgesper word en padgebruikers moet in ag neem dat Noodpersoneel die verkeer moet reguleer om sodoende nóg ’n ongeluk te verhoed. Verminder asseblief spoed!


Omstreeks 06:00, op Woensdagoggend, 15 Augustus, is die gemeenskap van Piet Retief wakker gemaak met die lawaai van sirenes. Na bewering, was twee vragmotors in ’n botsing betrokke, by die Paulpietersburg afdraai, op die N2.

Die een vragmotor het omgeslaan en die N2 versper. Teen omstreeks 10:00, was die pad steeds gesluit en Noodpersoneel was nog op die toneel teenwoordig. Teen druktyd was die volledige inligting aangaande die ongeluk nog nie bekend nie en sal dit in die volgende uitgawe van die Excelsior Nuus gepubliseer word.