Noord-Natal Ligawenners

Noord-Natal Ligawenners
PRRK se Tweedes wen die Finaal met 62-12 teen Sentraal, van Dundee

Baie geluk aan beide die Eerste – en Tweede rugbyspanne van Piet Retief Rugbyklub wat op Saterdag, 7 Julie, gekroon is as die wenners van die Noord-Natal Liga.

Tweede span: Omstreeks 14:00, het PRRK se Tweede span teen Sentraal, van Dundee, uitgedraf en was beide spanne gereed vir ’n tawwe wedstryd om as die wenners van die Liga benoem te kon word.

PRRK se Tweedes het vir geen oomblik teruggestaan nie en te danke aan puik spel en verdediging van al die spelers, slaag hulle daarin om met ’n prageindtelling van 62-12 te wen.

Baie geluk aan die spelers wat verantwoordelik was vir drieë en verdoelings: James Fourie (1), Kalla van Greuning (1), Xander de Beer (2), Jabu Dlamini (1), Bongamesi Dlamini (1), Jacques Cornelius (2), Lungisi Dlamini (1) en Leroy Breytenbach (1). Verdoelings deur Leroy Breytenbach (4), Wellington Shabalala (1) en Danie Schoeman (1). Dit was voorwaar ’n uitstekende wedstryd wat deur elke ondersteuner en speler geniet is.

Baie geluk, julle verdien die trofee! Eerste span: Na die Tweedes se fenomenale wedstryd, was die skare gereed vir nog ’n oorwinning en het PRRK se Eerstes teen omstreeks 15:30 in ’n kragmeting met die Bulldogs van Ladysmith te staan gekom. Die Bulldogs het nie vir een oomblik slap gelê nie en Piet Retief moes hard baklei om besit van die bal te behou. Beide spanne se aanval en verdediging was briljant en hul het mekaar behoorlik die stryd aangesê tot die bitter einde toe.

In die laaste minute van die wedstryd, het die telbord op 34 gelykop gestaan en weens ’n strafskop wat aan Piet Retief toegeken is, slaag PRRK se Eerstes om die wedstryd naelskraap te wen met 37-34. Baie geluk aan die volgende spelers wat verantwoordelik was vir pragdrieë, verdoelings en strafskoppe: Steve Scheepers (1), Louis Murray (1) en Ray van der Lith (1).

Waldo Botma slaag met twee verdoelskoppe en ses strafskoppe. Geluk – die beker is julle s’n! Daar is geen spelers van die wedstryd aangekondig vir beide spanne nie. Gelukwense is in order vir beide PRRK se spanne wat dié seisoen skitterende rugby gespeel het.

Piet Retief Rugbyklub se bestuur en spelers wil graag elke toeskouer hartlik bedank vir hul getroue ondersteuning. Sonder julle langs die veld sou die spelers nie aldag so positief kon bly nie. Jul almal se bydrae word opreg waardeer!