Kinders vul slaggate vir lekkers

Kinders vul nou al slaggate vir lekkers
Jong kinders maak self die slaggate reg in ruil vir iets lekkers

Die Emahlathini Grenspos pad is vir ’n geruime tyd al in die nuus en steeds is daar nog geen verandering aan hierdie pad se gehawende toestand met die slaggate nie.

In Julie 2017, het die Excelsior Nuus berig oor die publieke pad na die Emahlathini Grenspos en lede van die gemeenskap in daardie gebied, het ’n optog gehou en ’n memorandum oorhandig aan die plaaslike Mkhondo Munisipaliteit weens die slaggate.

In vorige nuusberigte is daar genoem dat munisipale werkers op verskeie geleenthede gesien is waar hulle besig was om ’n slaggat hier en daar op te vul maar die projek is dikwels onafgehandel gelaat. Hierdie betrokke pad word daagliks deur swaarmotorvoertuie gebruik sowel as boere en inwoners in die omgewing.

Kinders vul nou al slaggate vir lekkers
Hoe moet ’n mens hier ry sonder skade aan jou voertuig?

Die vragmotors beskadig die pad erg en vir ’n normale voertuig is dit meestal onmoontlik om nie ten minste een of twee slaggate per reis te tref nie. Inwoners in die area het genoem dat daar gerugte is dat herstelwerk op die pad in Oktober 2018 sal begin, maar dit blyk of die padwerke elke jaar uitgestel word.

Mense het al lankal ’n grondpad langs die teerpad uitgery en almal gebruik liefs dié pad aangesien dit in ’n beter toestand is as die teerpad. Gedurende die Junie/Julie skoolvakansie, is kinders op ’n daaglikse basis gesien waar hulle met grawe die gate probeer opvul – dit in ruil vir ’n lekker!

Boere in die area stuur ook gereeld hul werkers om self die pad rybaar te maak net sodat dit hul in staat sal stel om hul oeste van die lande af te kry. Die Excelsior Nuus het ‘n e-pos gerig aan die Departement van Openbare Werke om die stand van sake aangaande die Emahlathini pad op te volg en terugvoer word afgewag.