Ermelopad eis menselewens

Ermelopad eis menselewens
So het die pad op Sondag, 8 Julie, daar uitgesien

Gereeld ontvang die Excelsior Nuus ongeluksverslae oor ongelukke wat op die N2 (Ermelopad) plaasgevind het en in baie gevalle is dit weens roekelose bestuurders of motoriste wat voertuie onwettig verbysteek.

Die Ermelopad is op ’n daaglikse basis baie bedrywig en inwoners sowel as mense wat gereeld van hierdie pad gebruik maak, sal weet dat dit nie aldag die veiligste roete is om te volg nie.

Vir baie ander, wat slegs die pad gebruik om van punt A tot B te reis, is dit ’n onbekende pad en word daar dikwels onnodige kanse gewaag al weet die bestuurder nie wat om die volgende draai of bult voorlê nie.

Om van die diere op hierdie pad nie eers te praat nie. Wag maar jou beurt af en wees geduldig al beland jy agter ’n ellelange ry vragmotors en bereik dalk jou eindbestemming heelwat later.

Daar sal wel ’n geleentheid kom waar jy die string voertuie kan verbysteek sonder om enige van die ander padgebruikers se lewens of jou eie in gevaar te stel.