AfriForum Buurtwag maak skoon!

AfriForum Buurtwag maak skoon!
Werkers van AfriForum Buurtwag het op Dinsdag, 19 Junie, ingespring en 'n toegegroeide erf in Kotzestraat begin skoonmaak

Na verskeie klagtes van inwoners in Piet Retief oor leë erwe wat net so gehawend gelaat word, het lede van AfriForum Buurtwag op Dinsdag, 19 Junie, aan die werk gespring en begin skoonmaak.

Die beboste erwe bied ’n veilige wegkruipplek vir kriminele asook genoegsame wegsteekplek vir gesteelde goedere. Boewe hou eiendomme dop vanuit ’n oop erf en dus is dit uiters belangrik om hierdie leë plekke gereeld instand te hou.

In verskeie gebiede, gebruik mense ook die leë erwe as ’n veilige hawe of as ’n deurloop en dit is ook oplettend dat mense dikwels die erwe gebruik as ’n plek waar rommel gestrooi word. ’n Perseel in Kotzestraat is Dinsdag skoongemaak. Die gras is kort gesny, bome is met ’n kettingsaag afgesaag en rommel is ook opgetel, met behulp van Mkhondo Green.

AfriForum Buurtwag wil egter van hierdie geleentheid gebruik maak om die skoonmaak van leë erwe in Piet Retief op hulself te neem en ander residensiële areas wat ook dieselfde probleem het, bystaan. Die organisasie het dus die gemeenskap se hulp dringend nodig in die vorm van skenkings om die arbeiders te betaal asook waentjies te huur waarmee die vullis weggery sal word.

AfriForum Buurtwag maak skoon!
Baie dankie vir die inisiatief!

Lede van die gemeenskap wat tuindienste het, is ook welkom om by die projek betrokke te raak sodat ’n mens maar self inspring en die erwe skoon en netjies hou. In die geval van ’n huisbraak in die nag, of bedags, kruip kriminele dikwels in hierdie erwe weg en as dit skoon is en die gras kort is, kan die patrollielede baie makliker ’n kwaaddoener raaksien.

Daar word ook ’n beroep op die eienaars van hierdie leë erwe gedoen om asseblief te verseker dat jou eiendom te alle tye skoon en netjies gehou word. Dit is uiters onbedagsaam om ‘n erf te koop en te dink dat die erf vanself onderhou sal word. Bure sukkel geweldig met peste en plae omdat hierdie erwe nie aandag kry nie. Belangstellendes wat by hierdie projek betrokke wil raak, kan gerus vir Gerhard Böhmer by 083 727 4766 of Willem Grobler by 082 336 3303 skakel.

Die bogenoemde lede kan ook geskakel word indien jy weet van ’n erf wat skoongemaak moet word. Kom ons almal vat hande en maak sélf ons dorp skoon in plaas van om agter die lang gras te staan en sanik!