Spaarvarkie vir wanneer die spaargeld min is

’n Spaarvarkie vir wanneer die spaargeld min is
Hierdie was ’n baie insiggewende vergadering en elkeen het iets nuuts geleer

Inflasie styg, BTW is verhoog, daar is minder geld om te spaar en beslis nie geld vir ’n duur spaarvarkie nie! Op Donderdag, 24 Mei, het Tanya en Suzette die ander VLU (Vroue Landbou-Unie) Salignatakdames onthaal tydens ’n heerlike vergadering.

Die smaaklikste lekkernye is voorgesit tydens die vergadering, met koek en pannekoek wat gereed was om saam met koffie te geniet.

Die dames het geleer hoe om ’n spaarvarkie uit ’n 2-liter koeldrankbottel te maak. Hierdie bottel kan op enige manier versier word om jou eie identiteit uit te beeld. Die tuit van die bottel word gebruik as ’n snoet en daar kan krale aan die onderkant van die bottel geplak word om as pote te dien. Gebruik dan ’n warm mes om ’n gleuf aan die bokant in te sny waar jy jou geld kan ingooi.

n Spaarvarkie vir wanneer die spaargeld min is
Die pragtigste handwerk produkte, van die dames wat reeds projekte voltooi het, is uitgestal

In ’n tweede leersessie, het die dames geleer hoe om ’n kruiesakkie te maak, wat as ’n tafelversiering gebruik kan word, in ’n kas gesit kan word, saam ’n geskenk vir iemand gegee kan word of selfs as ’n deurstopper gebruik kan word (as jy hom groot genoeg maak).

Die kruie word met growwe sout en ’n essensiële olie gemeng voordat dit vasgebind word. ’n Lapblom kan dan bo-op dit vasgegom word.

Van die dames wat al projekte voltooi het vir die jaar, het dit uitgestal vir die ander om te sien. Hierdie tafel was vol van die kreatiefste handewerk. Dit mag dalk nog ’n rukkie wees voor julle deelneem, maar sterkte met die kompetisies – julle staan beslis ’n kans om ’n hele paar pryse los te slaan.

Volgende maand word daar weer vergadering gehou en geleer hoe om ‘n nuwe projek aan te pak.