Padvarke neem oor!

Padvarke neem oor! Het jy jou daaglikse gebedjie gesê voor jy besluit het om die dorp met jou motor aan te durf?

In Piet Retief wil dit blyk of dit die norm is om te maak-en-breek wanneer dit kom by die bestuur van ‘n motor of selfs die parkering daarvan. Op een dag, is drie verskillende padvarke bestuurders gesien wat glad nie volgens die padreëls bestuur of parkeer het nie.

Dit boonop in net een blok van Kerkstraat! ’n Silwer Corsa bakkie het op Maandag, 4 Junie, sommer in die middel van die hoofstraat ‘n u-draai gemaak, terwyl daar ’n lang ry motors geduldig vir hom moes wag om sy draai te kry.

Daarna, is ’n afleweringsvoertuig in ’n plaaslike inkopiesentrum gesien wat die parkeerterrein versper het deur aan die verkeerde kant van die pad te parkeer terwyl aflewerings gedoen is.

Motoriste kon nie verby die vragmotor beweeg nie. Soos wat ’n mens op soek is na parkering, sien jy dat nóg ’n motoris sommer vir homself ’n staanplek geskep het waar daar heel duidelik nie een is nie.

Jy as motoris moet flink dink en vir al die motoriste rondom jou ook kophou want dit wil voorkom of sommige bestuurders in Piet Retief se vernuf agter ’n stuurwiel, veel te wense oor laat.