Jong man sterf in motorongeluk

Armand Fourie sterf in motorongeluk
Armand Fourie, is op die ouderdom van 23, op Sondag, 27 Mei 2018, oorlede

Armand Fourie (Arrie) sal onthou word vir sy energieke uitkyk op die lewe en sy positiewe gesindheid het almal rondom hom aangeraak. Dit is met groot hartseer dat sy familie, vriende en die gemeenskap van Piet Retief op Sondag, 27 Mei 2018, moes afskeid neem van dié 23-jarige kranige rugbyspeler en besonderse mens.

Na ’n fenomenale rugbywedstryd, waartydens Armand vir die Piet Retief Rugbyklub se Eerste Span uitgedraf het, is hy ook aangewys as speler van die wedstryd. Na sy terugkeer van Ladysmith af, waar hulle gaan rugby speel het, is Armand op pad huis toe, op die N2 na Ermelo, naby PG Bison, oorlede na ’n motorongeluk.

Louis en Mariana Fourie wil graag die gemeenskap in kennis stel dat daar op Saterdag, 2 Junie, omstreeks 11:00 vir Armand ’n Roudiens vanuit die AGS Fontana Gemeente, te Piet Retief, gehou sal word.

Armand Fourie Memorial Services will be on Saturday, 2 June, 11:00, at the AGS Fontana Church in Piet Retief. Armand se vriende het op sosiale media vir hom die volgende boodskappe gelaat: “Ek sien al die bladwisselende bome op die herfsoggend, waar dit insink dat ek jou nooit weer gaan sien nie.

Arrie jou hart was werklik van goud gemaak, jy het altyd ander se behoeftes bo jou eie gestel en was altyd daar vir vertroosting in hartseer tye. Soos wat die bome hulle blare verloor, het die eer om jou in ons lewens te hê ons verlaat.

Dit gaan ’n baie koue winterseisoen vir almal wie se lewens jy aangeraak het wees, maar ek weet jy gaan die mooiste bloeisel in Jesus se tuin wees. Rus in vrede, Arrie.” “Dude, ons sal altyd wonder hoekom jy so vroeg en so skielik moes gaan. Jy het so groot inpak gehad in ons lewens dat dit altyd unreal gaan voel dat jy weg is.

Sal altyd daardie glimlag onthou en hoe mooi jy daardie baard opgepas het (sjampoe en opknapper en die olie). Dankie, dat jy altyd so positief was en omtrent permanent ’n glimlag op jou gesig gehad het. Jy was ’n fees!”