Gesteelde Land Cruiser opgespoor
’n Gesteelde Land Cruiser in Ermelo, is opgespoor in die Amsterdam omgewing op Maandag, 4 Junie

As gevolg van uitstekende kommunikasie en puik spanwerk is ’n gesteelde Land Cruiser in die oggendure van Maandag, 4 Junie, opgespoor. Mnr. Henry Geldenhuys het aan die Excelsior Nuus genoem dat daar ’n Land Cruiser, omstreeks 03:00, Maandagmôre, uit Ermelo gesteel is.

Hy vertel dat hy van die voorval in kennis gestel is teen omstreeks 03:22 en die eienaar het dadelik die voertuig se opsporingstoestel geaktiveer. Leidrade is ontvang dat die voertuig deur Sheepmoor beweeg het en in die Panbult area was.

Gesteelde Land Cruiser opgespoor
‘n Verdagte het van die toneel af gevlug en die voertuig verlate gelos nadat hy agtergekom het dat die Plaaswag hom agtervolg.

Die Panbult Plaaswag is in kennis gestel. Die verdagte persoon het by Amsterdam afgedraai en toe hy agterkom dat die Plaaswag hom agtervolg het hy die voertuig in die veld tot stilstand gebring en weggehardloop.

Teen druktyd was daar nog geen arrestasies gemaak nie. Te danke aan die SAPD, Plaaswagorganisasies en vrywilligers, is hierdie voertuig teruggevind.