Aanskoulike rugby by Piet Retief Rugbyklub

Geesdriftige rugbyondersteuners kon vir die eerste keer in die geskiedenis van dorpsrugby ’n wedstryd tussen provinsiale spanne op tuisbodem kyk – dit boonop terwyl Piet Retief Rugbyklub se eie twee spanne ook puik spel gelewer het en beide hul wedstryde op die betrokke dag gewen het!

Op Saterdag, 9 Junie, het ’n magdom Piet Retiewers by die Piet Retief Rugbyklub bymekaargekom vir die wedstryd van die jaar – die Cell C Sharks teen die Leopards. PRRK se Tweede Span het die dag se verrigtinge begin met hul wedstryd teen Sentraal, van Dundee, omstreeks 12:30.

Tweede Span (wen 54-0): Baie geluk aan die volgende spelers wat pragdrieë gedruk het. Louis Fourie (1), Toit Thomas (1), Asanda Lurai (1), Gerdus Stapelberg (1), Thabiso Johnston (1), Berno Böhmer (3) en Lindilani Makhanya (2).

Jaco Botha was verantwoordelik vir twee prag verdoelskoppe – knap gedaan! JC Viljoen is gekies as voorspeler van die wedstryd en Berno Böhmer is aangewys as agterspeler – baie geluk manne! Eerste Span (wen 55-18): Die Eerstes het teen 14:00 uitgedraf vir ’n taai wedstryd teen Sentraal se eerste span.

Niks kon PRRK se manne keer nie en hulle wen die wedstryd loshande. Baie geluk aan die spelers verantwoordelik vir die skitterende eindtelling. Zakes Dlamini (1), Louis Murray (1), Ray van der Lith (4), Lindilani Makhanya (1) en Berno Böhmer (1) druk drieë.

Waldo Bothma lewer puik skopwerk en verdoel vier drieë en skop ook twee strafskoppe oor. Baie geluk aan Ray van der Lith wat aangewys is as voorspeler van die wedstryd en Xander de Beer as agterspeler.

Terwyl die rugbyspelers hul heel beste gelewer het op die veld, het die ondersteuners langs die veld hul al juigend aangemoedig. Teen 17:00 het die tyd aangebreek vir die belangrikste wedstryd van die dag.

Die Cell C Sharks het die Leopards behoorlik ore aangesit en die oomblik na die eindfluitjie geblaas het, was die telling 52-24, in die Sharks se guns. Beide spanne is behoorlik deur die toeskouers aangehits en daar was geen tekort aan ondersteuning nie – nie eens die koue kon die ondersteuners weghou nie.

Piet Retief Rugbyklub wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om elkeen wat deel was van die dag se sukses, hartlik te bedank. Baie dankie aan al die borge en individue wat vrywilliglik gehelp het met die kosstalletjies asook by die kontantkroeë, sowel as die organiseerders wat gesorg het dat die 9de Junie 2018, vir nog baie lank onthou sal word!