‘n Opwindende Carp Classic 2018

‘n Opwindende Carp Classic 2018
Mnr Tiekie Reyneke ontvang die 1ste prys

Verlede week het kranige hengelaars seker gemaak dat die hengelgerei, voermengsels en kamptoerusting afgestof en gereed is want daar was groot pryse op die spel die afgelope naweek en daar kon net een wenner wees by die Carp Classic!

Op Vrydag, 27 April 2018, om 12:00, het die jaarlikse Carp Classic by Heyshopedam afgeskop en daar is behoorlik visgevang regdeur die naweek. Die stokke was dwarsdeur die betrokke aande in die water en hengelaars, saam met hul gesinne, het die naweek ten volle benut.

Die kleintjies het heerlik in die damwater baljaar terwyl pa en ma vasgenael was agter die visstokke. Omstreeks 09:00, op Sondag, 29 April, moes al die hengelaars hul vangste inweeg en was dit tyd om die wenner te kies.

Baie geluk aan die volgende wenners van die Carp Classic 2018:

  • 1ste plek – Tiekie Reyneke met ’n 5kg karp (die grootste nóg vir die afgelope paar jaar)
  • 2de plek – Werner Breytenbach met ’n 4,290kg karp
  • 3de plek – Frans Louw met ’n 4,280kg karp
  • 4de plek – Hugo Kuhn met ’n bielie van ’n baber wat ingeweeg het op 12,360kg

Damewenner – Nicky van der Linde (karp van 3,680kg en baber van 3,740kg) Meisiewenner – Emma du Plessis (baber van 4,270kg) Seunwenner – Gerhard Oosthuizen jr. (karp van 2,290kg en baber van 6,410kg)

Daar is ook verskeie pryse uitgedeel tydens ’n gelukkige trekking en omtrent niemand het met leë hande huis toe gegaan nie. Die Heyshopedam Bootklub wil graag van hierdie geleentheid gebruik maak om elke entoesiastiese deelnemer hartlik te bedank vir hul lojale ondersteuning. Sonder hierdie deelnemers sou die Carp Classic 2018 nie so suksesvol gewees het nie.

Die organiseerders bedank ook al die instansies en persone vir hul ruim skenkings wat bygedra het tot die sukses van die kompetisie