Karla Botha skitter!

Karla Botha skitter!
Karla Botha verower die titel as Royal Beauty Queen asook verskeie ander titels

Karla Botha is ’n jong meisie wat al verskeie skoonheidstitels ingepalm het en die afgelope naweek het sy wéér skoonskip gemaak by die Royal Beauty South Africa skoonheidskompetisie.

Op Saterdag, 21 April, het Karla in Pretoria aan hierdie prestige kompetisie gaan deelneem en haar familie, vriende en die inwoners van Piet Retief kan opreg trots wees op hierdie mooi kind wat die volgende kategorieë gewen het: Uit die 18 modelle wat aan die 9-11 jaar Algemene afdeling deelgeneem het, raap Karla die titel as wenner op.

Sy verower ook vier keer Provinsiale wenner en ontvang vierde plek as prinses in die Model Challenge. In die All Star afdeling, ontvang Karla vierde plek as prinses en word gekroon as die Royal Beauty wenner. Karla word ook gekroon as die Royal Beauty Queen vir al vier kompetisies saam en as algehele wenner vir die 9-11 afdeling.

Sy blink ook uit en wen die Best Face toekenning in die 9-11 Algemene afdeling. Dit sit nie sommer in enige jong meisie se aandrokkie om soveel titels op een dag te verower nie. Baie geluk Karla! Ons sien uit daarna om jou op die loopplank vir die titel van Mej. Suid-Afrika te sien in die toekoms.