Kaleidoskoop het sommer drié Florence Nightingales

Kaleidoskoop het sommer drié Florence Nightingales
Waar is dit lekker - by Kaleidoskoop is dit lekker

Op Saterdag, 12 Mei 2018, is Internasionale Florence Nightingale Dag, of te wel Verpleegstersdag, gevier en die VLU Kaleidoskoop- dames het terselfdertyd heerlik saamgekuier.

Aan huis van Rika Wolmarans, is die dames bederf met ’n smaaklike ontbyt en die ketel is op ‘n gereedheidsgrondslag gehou vir warm koffie of tee wat saam met ’n varsgebakte botterbroodjie (scone) genuttig kon word – dit is mos nou ’n blink plan om op só ’n wyse te vergader, of hoe?

Na ’n vinnige vergadering het Rika die dames touwys gemaak oor hoe om ’n handsak te maak, kompleet met drie kompartemente, spesiaal vir jou naaldwerkkamer.

Elke lid het ’n volledige pakkie gekry waarmee hul ’n handsak kon maak. Jy moes net jou eie naaldwerk doen en die projek aanmekaarsit. Die verpligte voorskrifte van die handsak is dat dit minstens drie sakkies moes hê en die naaimasjien optimaal gebruik moes word.

Magda Pretorius was voorwaar ’n voorbeeld vir elkeen en, al moes sy haar naaimasjien effens afstof, het sy sommer gou-gou haar handsak klaargemaak, tussen geselsies deur. Haar handsak was binne etlike ure klaar en dit nogal met nét een hand – dit wil gedoen wees!

Kaleidoskoop wil ook graag noem dat hulle hul eie drie Florence Nightingales het wat vir jare en jare die onbaatsugtige beroep van ’n verpleegster verrig het. Dié tak wil graag noem dat hul uiters trots is op Rika Potgieter, Jacky Pretorius en Hannetjie Botha.

Al drie van hulle het hulself diep in mediese beroepe ingewortel en ’n mens kan opkyk na hulle as ’n voorbeeld vir ons elkeen. Hannetjie Botha het ’n klomp klaar voltooide beertjies ontvang en het besluit om vir elkeen ’n gesiggie op te werk.

Daarna het sy besluit om die beertjies te skenk aan kinders en, aangesien Marlene Janse van Vuuren tydens die vergadering teenwoordig was, is die beertjies aan haar oorhandig om aan die kinders van Uzwelo Kinderhuis te gee. Kaleidoskoop wil ook graag al die Excelsior Nuus lesers uitnooi om deel te word van die VLU Kaleidoskoop-tak.

Die dames vergader elke tweede Saterdag van die maand en dit is propvol pret en plesier. Onthou, jy hoef nie enige spesifieke talente te hê nie, jy moet net die wilskrag hê om jou gegewe talente te ontgin of dalk net ’n bietjie af te stof. Om lekker te gesels kan ook ’n talent wees!

Vir meer inligting aangaande die VLU Kaleidoskooptak, kontak gerus enige van die bestuurslede: Babie Jacobs (Voorsitter) 082 929 0342, Hannetjie Botha (Visevoorsitter) 083 661 7318, Rika Potgieter (Tesourier) 083 384 7113, Elzette Farr (Skakelbeampte) 084 797 9014 of Magda Pretorius (Sekretaresse) 082 746 5917. Die volgende vergadering vind plaas op die 9de Junie en Magda Pretorius sal haar lyf gasvrou hou – hoop om jou daar te sien! Kaleidoskoopgroete