Bybels vir almal!

Bybels vir almal!
Word Riders het hierdie jaar die Weskus besoek

Bybels vir almal! Die Word Riders motorfietsryers, in samewerking met die Bybelgenootskap van Suid- Afrika, het tydens hierdie jaar se Bybelverspreiding uitreik verskeie Weskus-skole gaan besoek.

Vanaf 15-20 April, het die groep van ongeveer 40 motorfietsryers, insluitend Piet Retief se eie Riaan en Maryke de Bruyn, en min of meer 70 mense, die lang pad na die Kaap aangedurf.

Die roete het afgeskop vanaf die Bible House in Kaapstad en die ryers het daarvandaan deur die welbekende wynroetes van die Kaapse Wynlande asook die Breederivier Vallei gereis, onderweg na die kus.

Op Donderdag, 19 April, is daar besoek afgelê in Piketberg, Citrusdal, St Helena, Velddrift, Clanwilliam, Elandsbaai, Redelinghuys en Eendekuil. Op Vrydag, 20 April, het die ryers weer die pad gevat en verder besoek afgelê in dorpe soos Graafwater, Lambertsbaai, Klawer, Vredendal en Vanrhynsdorp.

Teen die einde van die uitreik, is ongeveer 4 537 Bybels uitgedeel aan graad 7-leerlinge van 54 verskillende skole in die Weskus distrik. 2018 se Word Riders Bybelverspreiding uitreik was weereens baie suksesvol.

Riaan en Maryke wil graag die gemeenskap van Piet Retief, asook die gemeentelede van AGS Fontana hartlik bedank vir hul bydrae wat dit moontlik gemaak het om weereens die uitreik mee te maak.