Warm sjokoladepoeding

Warm Sjokoladepoeding
Warm Sjokoladepoeding

Soos die herfsbriesie in die lug gevoel kan word, is ’n mens nie altyd meer lus om roomys vir nagereg te eet nie – hier is ’n heerlike warm sjokoladepoeding wat maklik is om te maak.

Bestanddele: 110 gram semisoet of bitter sjokolade 4 eetlepels ongesoute botter 4 eetlepels suiker ½ teelepel vanieljegeursel ¼ teelepel sout 2 groot eiers, geskei Maak so: Voorverhit die oond tot 180˚C. Plaas vier bakkies tussen 170 milliliter en 230 milliliter, wat in die oond gebruik kan word, op ’n oondpan. Plaas die sjokolade en botter in ’n dubbelkoker op die stoof en roer gereeld tot dit gesmelt het. Na ongeveer 4 tot 5 minute (sodra die sjokolade gesmelt is) haal dit van die stoof af en meng 2 eetlepels suiker, die eiergele en die vanielje by.

Klits die eierwitte en sout in ’n medium-grootte bak totdat dit sagte punte begin vorm. Hou aan met klits en voeg die oorblywende 2 eetlepels suiker geleidelik by. Hou aan klits totdat die mengsel styf en blink is. Gebruik ’n rubber spatel en vou ’n derde van die eierwit- mengsel by die sjokolade-mengsel in. Voeg dan die oorblywende eierwit- mengsel by tot als net gemeng is. Verdeel die mengsel tussen die voorbereide vier bakkies.

Die mengsel moet bak totdat die bokant van die poeding oppof en gekraak lyk, maar as ’n tandestokkie in die middel ingedruk word moet dit steeds klam uitkom. Bak tussen 20 en 25 minute. Die poeding kan warm of by kamertemperatuur bedien word (wanneer die poeding afkoel sal die middel afsak) en geklitste room kan dan bo-op geplaas word.