PRRK se Eerstes wen oortuigend
PRRK se eerste span saam met die Schuylkill River RFC toerspan

Geesdriftige rugbyondersteuners kon nie wag vir Dinsdag, 20 Maart, nie en het Piet Retief Rugbyklub PRRK se pawiljoene al van vroegmiddag af vol gesit.

Dit was tyd vir die internasionale wedstryd tussen PRRK en Schuylkill River RFC, wat al die pad van Philadelphia in Amerika, in Suid- Afrika kom toer het en die braaivleisvure het vroegaand reeds hooggebrand. Piet Retief se tweede span het omstreeks 19:00 teen Pongola te staan gekom en na ’n uitmergelende wedstryd tussen dié twee spanne, stap Piet Retief weg as die wenners met ’n eindtelling van 20- 19.

Knap gedaan manne! Die skare het hierdie wedstryd terdeë geniet! Weens die tweede span se wedstryd wat effens later as wat beplan is, afgeskop het, het die wedstryd teen die Amerikaners ook na 20:00 eers begin, maar daar was steeds geen tekort aan ondersteuners nie. Die wedstryd is geopen deur beide spanne wat trots hul Volksliedere gesing het en daar was maar min besoekers wat nie uit volle bors saamgesing het nie.

Daarna het die sports begin . . . PRRK het vanaf die afskop al gewys dat daar nie met hulle gemors gaan word nie en dat hulle ook nie geïntimideerd is nie. Piet Retief wen met ’n gemaklike eindtelling van 62-17. ’n Totaal van 10 drieë is gedruk. Baie geluk aan Ray van der Lith, wat 5 drieë gedruk het, asook Louis Fourie, Zakes Dlamini, Berno Böhmer, Sam Ndlovu, Markus van der Linde, wat verantwoordelik was vir die res van die pragdrieë.

Matthew Stride het beslis sy skopskoen aangehad en het 6 van die drieë verdoel. Dít was mos meer as genoeg rede om jolig saam te kuier en Piet Retief se mense het uit hul pad gegaan om die Amerikaners tuis te laat voel. Graag wil PRRK van hierdie geleentheid gebruik maak om elkeen te bedank wat die byeenkoms bygewoon het en die klub ondersteun het. Dit was aangenaam om so baie Piet Retiewers bymekaar te sien!

PRRK speel weer op Saterdag, 7 April, teen Vryheid op tuisbodem. Kom ondersteun gerus hierdie dag. Bring sommer jou hele familie saam en kom braai ’n vleisie langs die veld.