Potjiekoskompetisie én visvang is mos bobaas!

Potjiekoskompetisie
Potjiekoskompetisie

Kyk, daar is maar min dinge wat so lekker ruik soos wanneer die deksel van die driepoot-pot gelig word en die aroma van wat daar binne smeul, ontsnap! Van vroegoggend af al op Saterdag, 7 April, het die deelnemers begin met hul voorbereiding vir die Heyshopedam Bootklub se Potjiekoskompetisie.

Die gesoute hengelaars het ook douvoordag al die visstokke in die water gegooi, met die hoop dat ten minste een van hulle ’n knewel sal uittrek wat ingeweeg kan word vir die Hengelkompetisie.

Met ongeveer dertien verskillende potjies wat deur die loop van die oggend geprut het, was die beoordelaars behoorlik uitgehonger teen die tyd wat die wenners gekies moes word. Die verskillende spanne het mekaar gedurig aangepor en bemoedig.

Potjiekoskompetisie. Daar was egter geen tekort aan spangees nie en die deelnemers het omtrent uitgehaal en gewys – van ’n brandblusser met ’n “lafenis” tot ’n handgemaakte braaier wat soos ’n varkie gelyk het.

Die verskeie tafels was ook baie oorspronklik gedek. Carmen Niehaus, van Huisgenoot, was een van die beoordelaars! Dit het egter maar moeilik gegaan om slegs een wenner uit almal te kies, aangesien elke deelnemer ’n wenner uit eie reg was!

Met die hengelaars het dit ook voor die wind gegaan en is daar baie kontantpryse losgeslaan vir die visserman/vrou met die swaarste karp, baber, geelvis en kurper. Baie geluk aan die wenners van die Pot j iekoskompetisie: 1ste plek – Piet Roodt en familie, met ’n lip-lekker kerrie lamsnekpotjie, sambals en plaatbrood. 2de plek – VLU Saligna-tak (Seerowers), met ’n verrassende visryspotjie, potbrood en ’n verskeidenheid lekkernye. 3de plek – Tekwani Lumberjacks, met ’n smaaklike romerige beesstertpotjie en spaghetti.

Baie dankie aan die beoordelaars; Elbie van der Schyff, Tina Blignaut, Carmen Niehaus, Annatjie Steenekamp en Helene Paul. Dankie, ook aan elke deelnemer en besoeker wat bygedra het tot die algehele sukses van die dag.

Julle ondersteuning word hoog op prys gestel. Die volgende individue word gelukgewens as die wenners van die Hengelkompetisie: Karpwenner – N. Lombaard, 3,070 kg Baberwenner – F. Lombaard, 3,930 kg Geelvis- en Kurperwenner – Andries Marais, 1,2 kg (geelvis) en 1,020 kg (kurper) Die volgende kinders het ook elkeen ’n kontantprys ontvang – baie geluk: P. Jacobs, N. Jacobs, M. de Bruin, N. de Bruin, D. de Bruin, E. Prinsloo, N. Botha, S. Stoltz, C. Uys en A. Uys.

Die kinders het gesamentlik ’n allemintige 5,090 kg se Kurpers gevang! Dit was voorwaar ’n heerlike dag en is beslis deur elke deelnemer, besoeker asook organiseerder geniet. Baie dankie vir elkeen se betrokkenheid en ’n mens kan nie anders as om te vra: “Wanneer maak ons weer so?” nie.