#Imagine 2018

#Imagine 2018
Die Piet Retiewers wat hierdie kamp bygewoon het

Van 6 tot 8 April was dit weer tyd vir die jaarlikse #Imagine 2018 kamp, waar 20 persone van die NG Kerk Piet Retief, Bella Bella (Warmbad) toe is. 

#Imagine 2018 is ’n strategie om hoop in Suid-Afrika vry te stel en visioenêre leiers te ontwikkel, wat die land in die toekoms gaan nodig hê: leiers met integriteit, ’n morele kompas, deernis, toewyding en geloof. Die beweging daag die tieners uit om buite die boks te dink.

Elke probleem in Suid-Afrika is ’n unieke geleentheid vir iemand wat kan droom, in verandering glo en bereid is om betrokke te raak om ’n verskil te maak Hierdie jaar was die kamp op ’n meer intieme manier gehou, maar steeds het almal dit verskriklik geniet.

Die Imagineers het saamgespeel, lof gebring en aanbid terwyl hulle hierdie boodskap op ’n manier ontvang het wat dit nie net lekker maak nie, maar wat elkeen die geleentheid gee om nader aan God te kom.

Om werklike verandering in die land te bring gaan harde werk verg, maar die tieners het die vermoë, energie en ywer om dit te laat realiseer. Hierdie is jongmense wat kies om ’n lewe van betekenis te leef in God. Volgens die wat by die kamp was, kan dit slegs met een woord beskryf word: Awesome!

Baie dankie aan Hoërskool Piet Retief wat ’n bus beskikbaar gestel het om die groep te vervoer. Verder word Steenekamp Vervoer en elke ouer en individu wat bygedra het om die naweek ’n sukses te maak, bedank vir die ondersteuning. Tot volgende jaar