Gevaar van ’n heuningby

Die gezoem (gevaar) van ’n heuningby
'n 18-maande oue seun is onlangs twee keer deur bye gesteek en is nou allergies vir byegif

Gevaar van ’n heuningby. ’n Gesin van Piet Retief is onlangs die skrik op die lyf gejaag toe ’n by hul 18-maande oue seuntjie vir die tweede keer in een week gesteek het en hul inderhaas na ’n hospitaal moes gaan.

Op Donderdag, 29 Maart, het ’n by die seuntjie by sy kleuterskool gesteek nadat hy op hom getrap het, maar hy was nie allergies vir bysteke nie en het dus niks oorgekom nie. Toe nóg ’n by hom op Saterdag, 31 Maart, vir ’n tweede keer steek by sy ouerhuis, op ’n plaas ongeveer 20 km buite Piet Retief, moes sy ouers gou spring, want binne 2 minute het sy keel begin toetrek en opswel en dié bulletjie kon byna nie asem kry nie.

Gerhard Harmse, besig om bye op ’n veilige manier te verwyder, sonder om hul skade aan te doen
Gerhard Harmse, besig om bye op n veilige manier te verwyder, sonder om hul skade aan te doen’

Die seuntjie is by die hospitaal gestabiliseer en kon hy dadelik die regte medikasie kry, maar na die tweede voorval is die ouers in kennis gestel dat hy nou allergies is vir bysteke en dat hulle te alle tye antihistamien byderhand moet hê vir ingeval ’n by hom weer sou steek. Bye kan baie gevaarlik wees en ’n mens moet nie sommer probeer om self ’n swerm bye te verwyder nie – hulle sal jou beslis aanval en steek!

Bye kan teen ’n snelheid van ongeveer 25 km/h vlieg en daar bestaan wêreldwyd meer as 16 000 spesies. By Kangra myn se opleidingsentrum, het ’n swerm bye ook onlangs saamgekoek, maar voordat hulle verwyder kon word, het die swerm besluit om self te trek.

Die heuningby is natuurlik die waardevolste van al die spesies. Hierdie ses-potige, drieledige insek met ’n harde buiteskelet, is van kardinale belang vir die mensdom.

Sonder die heuningby in vrugteboorde, sal daar geen vrugte of ander gewasse wees nie, aangesien die by hoofsaaklik belangrik is vir die bestuiwing van plante. Bye verorber plante se nektar en skakel dit dan om in heuning.

Wanneer ’n by van blom na blom vlieg, versamel dit die stuifmeel van baie plante wat hy dan in die stuifmeelmandjies (holtetjies) aan sy agterpote opgaar en so word stuifmeel versprei.

Bye is uiters belangrik vir die samelewing en moet hulle dus nie sommer net doodgemaak word nie. Daar is professionele mense wat bye by jou eiendom kan kom verwyder. Kontak gerus vir Gerhard Harmse by 071 592 0605, indien jy met’n byeplaag sukkel.

Indien jy of jou familie dalk allergies is vir bygif en gesteek word, gee vir die persoon dadelik ’n antihistamien, soos aanbeveel deur jou dokter, en kry die persoon dadelik by die naaste hospitaal.