Die NG Gemeente is 130 jaar oud!

Die NG Gemeente is 130 jaar oud!
Daar was ’n groot verskeidenheid potjies en elkeen het heerlik geëet!

Die NG Gemeente Piet Retief het op Saterdag, 14 April, ’n heerlike boeresport- en potjiekosdag gehou om hul 130ste bestaansjaar te vier. Na 130 jaar, word die lidmate van hierdie NG Gemeente steeds deur liefdesbande aanmekaar verbind.

Vir hierdie NG Gemeente staan God en Sy Woord aan die voorpunt van alles wat gedoen word. Die ouer generasie het ’n diep belangstelling in die jonger generasie en is altyd reg met lewensraad vir die kinders wat voor hulle oë volwassenes geword het. Die dominees, Ds. Roelf van Niekerk en Ds. Hancke van Blerk, gee om oor die welstand van elke persoon in die gemeente.

Op Saterdag, het die NG Gemeente die kerkbanke verruil vir kampstoele om saam verjaarsdag te vier. Die dag het begin met heerlike boeresport wat deur elkeen geniet is. Selfs die wat bietjie skepties was, kon steeds die pret van die kant af geniet. Hierna het die kuier geskuif na waar die potjiekossjefs al van vroeg af besig was om hul unieke stempel op die disse te plaas. Hoender, skaap, vark, bees en selfs ’n paar wildspotjies – daar was iets vir elkeen, en die geure het die lug gevul.

Te danke aan ’n glip van die hand, was een potjie (gelukkig die een in die rooi pot) ’n bietjie warmer as wat beplan is en almal was vinnig gewaarsku om dié pot te vermy as hulle nie van branderige kos hou nie. Die reën het ook nie gekeer dat bykosse, kruie en souse by die potjies gevoeg word nie.

Sambrele is opgeoffer vir die potjiekosmakers terwyl die res van die gemeente maar styf teen mekaar onder die gazebos gesit het om droog te bly. Teen 18:00 was die potjies amper reg en die dames het begin om die bykosse aan te dra – en wat ’n feesmaal is daar nie voorberei nie! Die tafels het gekreun onder ’n verskeidenheid van brode wat ook voorsien is. Toe die manne die potjies opdra, was dit duidelik dat hulle nie die verhaal van die twee brode en vyf vissies heeltemal vertrou nie.

Gemeentelede het nie net ’n tweede skeppie gekry nie, maar daar was genoeg kos sodat elkeen nog ’n brakkie-sakkie ook kon neem vir die Sondag! Aangesien dit ’n verjaarsdagviering was, het ‘n gemeentelid gesorg dat elkeen ’n stukkie sjokoladekoek ook kry. Sommige gemeentelede was dapper genoeg om die aand op die kerkgronde te kamp.

Gelukkig het niemand weggewaai met die storm wat Saterdagaand kopuitgesteek het nie. Volgens Ds. Van Blerk, het hierdie dag net ’n lekker rondte duikrugby gekort – toemaar dominee, die kerkgebou word amper ‘n 100 jaar oud en dan is dit weer tyd vir lekker feesvier en kan daar dalk onder gemeentelede twee spanne gewerf word!