Op die ouderdom van 89, spog mev. Marie Meyer met ’n pragtige stukkie hekelwerk en haar hande staan vir niks verkeerd nie. Tannie Marie sê dat sy truie toe-oë kan brei – en dít sonder ’n patroon, maar sy het nog nie eintlik probeer hekel nie en die kniekombersie uit skakerings van groen was haar eerste suksesvolle poging.

Alhoewel sy dit beaam dat sy verskeie kere moes lostrek, het hiérdie projek ’n pragtige eindresultaat gelewer en begin haar hande reeds jeuk om weer aan die hekel te spring. Mev. Helena Anna (Ena) Oosthuizen is ’n 98-jarige inwoner by Huis Immergroen en sy het ’n baie interessante lewensverhaal.

Sy is ’n afstammeling van die befaamde Du Toit en Malherbe familie, van die Paarl, Montagu en Robertson distrikte. Haar broer is Arnout Malherbe, ’n bekende musikant wat naby De Deur gewoon het. Tannie Ena het by die Potchefstroom Universiteit studeer waar sy ook haar eggenoot, Nicolaas Tobias Oosthuizen, ontmoet het.

In 1944 is hul in Johannesburg getroud en het op Wakkerstroom hul eerste onderwysposte aanvaar. Vir meer as 15 jaar, gee Ena skool op Wakkerstroom en drie van haar eie kinders was in haar klas. Sy het ook verskeie kore afgerig en die orrel gespeel.

Op die ouderdom van 80, het tannie Ena op haar kleindogter Ernette se troue gesing! In 1966, het Ena aan die eerste Republiekfees by die Voortrekkermonument deelgeneem en van haar kore het ook in die feeskonserte gesing.

Tannie Ena Oosthuizen is ’n merkwaardige vrou
Tannie Ena Oosthuizen is ’n merkwaardige vrou

Hiérdie vrou het verskeie medaljes van die FAK en ATKV ontvang vir al haar optredes. Na haar man se afsterwe in 1978, verhuis sy na Pretoria en gee skool by Hoërskool CR Swart waar sy steeds voortgegaan het met koorafrigting. Haar koor het verskeie Pretoria ATKV en Noord Transvaal kompetisies gewen en het ook aan die Nasionale Applous Koorfees in 1979 deelgeneem.

Tannie Ena het in 1980 in Israel gaan besoek aflê en haar in die Jordaanrivier laat doop. Vir ongeveer 34 jaar, was sy in Pretoria woonagtig en oorleef ernstige kanker. Op die ouderdom van 89, het tannie Ena steeds haar eie motor bestuur en was vreeslik lief vir koekbak. Sy het graag haar vriende en familie onthaal.

In 2012 word Ena siek en verhuis na Piet Retief waar sy steeds by Huis Immergroen woonagtig is. Hierdie is ’n merkwaardige vrou met ’n propvol lewensverhaal. Sy het 5 kinders, 5 skoonkinders, 8 kleinkinders en ’n allemintige 14 agterkleinkinders. Tot vandag toe nog leef tannie Ena baie naby aan haar God.