“Dankie vir jou!” – Wessie Cronje

Wessie Cronje Cancer
Totsiens, Wes!

“Aan God die Vader, van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!” – 1 Petrus 1:3 Die Cronje-familie het op Woensdag, 28 Maart, omstreeks 10:35, afskeid geneem van hul geliefde seun, oom, eggenoot en vriend nadat Wessie Cronje die stryd teen pankreaskanker verloor het op die ouderdom van 35.

Wessie sou op 30 April, 36 jaar oud geword het. Wessel en sy hele familie wil graag die volgende persone, instansies, skole, besighede en dies meer persoonlik bedank: “Dankie, vir jou – elkeen wat hier lees weet wat jý vir Wessie beteken het!” Wat hou ‘n lugballon bo? Warm lug.

En elkeen wat ’n bietjie warm lug geblaas het ten opsigte van bydraes, donasies, ondersteuning, boodskappe, gebede en nog baie meer, het gehelp om Wessie se lugballon bo te hou en uiteindelik reguit na die Here te neem. Wessie was ’n fenomenale voorbeeld vir elkeen in die Piet Retief gemeenskap en Wessel het bygevoeg dat, in die tye wat hy langs sy siekbed in trane was, was Wessie die een wat sy pa sterk gehou het al was hy die een wat op sy sterfbed gelê het.

So ook, was hy ’n inspirasie vir almal op sy lewenspad tot op die einde. As daar ’n uitsondering moet wees, sê Wessel moet hy die personeel van Life Hospitaal in Piet Retief noem asook Dr. Melinda de Klerk. Die gemeenskap van Pongola en Paulpietersburg asook vriende van regoor die wêreld, baie dankie vir wat elkeen van julle daagliks gedoen het.

Wessie laat sy twee ouers, twee susters, ’n broer, ouma Anna (92), sy eggenoot, Lizelle, en dogtertjie, Mia, agter. Op Vrydag, 6 April, omstreeks 11:00, sal daar ’n roudiens vir Wessie gehou word vanuit die NG Kerk, te Piet Retief. Prys die Here – Wessie het hierdie woorde telkens uitgespreek. Van al Wessie se familie.