911 Riders ry vir boere

911 Riders
911 Riders ry vir die boere

Vanaf 2 tot 11 April, het die 911 Riders verskeie dorpe in Noord- Kaap, Oos-Kaap, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal besoek ter bewusmaking van plaasmoorde en landelike veiligheid.

Tydens 2017, het dié motorfietsryers besoek afgelê aan dorpe in Limpopo, Mpumalanga, Vrystaat en Noord-Wes as die eerste deel van hul landwye projek. Hierdie was die eerste rit vir 2018 en die ryers, wat hierdie op hul eie onkoste voltooi, het ’n totale afstand van 5 200 kilometer afgelê. Later die jaar sal die ryers Gauteng besoek.

Hierna sal hulle ’n totaal van 25 000 kilometer afgelê het en vir ’n jaar lank al besig wees met die projek. Vir nou is elkeen eers weer terug op hul pos, waar hulle weer gaan spaar vir die volgende rit. Die 911 Riders se leuse is “Ride with a cause” en dit is wat die motorfietsryers beoog om te doen.

18 ryers het die totale roete voltooi en 100 ryers het gedeeltelik deelgeneem. Tans is daar ryers van Limpopo, Oos-Kaap, Mpumalanga en Gauteng wat deel vorm van die 911 Riders, maar ryers van oraloor Suid-Afrika kan inskakel by die groep. Die ryers het besoek afgelê aan SAPD-kantore in verskeie dorpe om ’n brief van waardering aan polisiebeamptes te oorhandig vir die werk wat hulle doen vir die boeregemeenskappe.

In elke provinsie is die Provinsiale Kommissaris ook ontmoet. Die ryers het sommige slagoffers van plaasmoorde ontmoet en saam met die boeregemeenskappe gekuier en gebid. Hulle sê dat die boeregemeenskappe hul hartlik verwelkom het en dankbaar is vir die uitreik. Paulpietersburg is die laaste dorp waar besoek afgelê is.

Die president en stigter van die 911 Riders, Pastoor TJ Maré, het aan die Excelsior Nuus genoem dat hy kon sien dat die stasiebevelvoerder werklik in sy hart ernstig is daaroor om plaasmoorde te bekamp. Wanneer al nege provinsies besoek is vir die projek, sal die ryers terugvoering gee aan die Nasionale Kommissaris van Polisie sowel as die Minister van Polisie.

So word die ryers ’n spreekbuis tussen die regering en die boeregemeenskappe. Pastoor Maré sê dat ’n plaasmoord nie as ’n gewone moord gesien kan word nie, omdat elke boer wat vermoor word ’n impak het op die ekonomie van die hele Suid-Afrika. Daar is gemiddeld elke 1.6 dae ’n plaasaanval, waarvan die meeste fataal is. Minder as 10% van boere wat aangeval is sê dat hulle gaan aanhou boer na so ’n insident.

Wanneer daar minder boere in die land is, is daar ’n gevaar dat die land ’n voedseltekort kan ervaar. Boere kan ook nie net opgelei word nie, aangesien ’n boer ’n passie vir sy werk moet hê om werklik suksesvol te wees. Boere voorsien ook nie net die land van voedsel nie, maar help ook gereeld hulle plaas gemeenskappe uit deur hulp te verleen, soos om skole te bou.

Na ’n plaasaanval, word die werk op die plaas gestaak vir ’n minimum van sewe dae, wat veroorsaak dat daar vir ’n tyd minder voedsel aan die land voorsien word. Boere is een van die grootste werkgewers in Suid-Afrika. Wanneer boere hulle plase verlaat, is daar net nog meer werklose persone in Suid-Afrika wat weer armoede vererger.

Om betrokke te raak by die 911 Riders, of om meer uit te vind oor die projekte waarmee hulle besig is, kontak gerus vir Pastoor TJ Maré by 082 772 6396, of besoek hul Facebook-blad.