Wittenberg Sportfest

Wittenberg Sportfest
Trotse presteerders met hul trofeë

Op Saterdag, 24 Februarie, was dit tyd vir Wittenberg Schule se Sportfest, te Wittenberg, en dit was terdeë geniet en ondersteun. Alhoewel dit effens moeilik was om die baan voor te berei as gevolg van die baie reën, het die dag op die ou end in ’n lieflike sonskyndag ontaard.

Die sportfest het begin met die hys van die landsvlag en daarna Wittenberg Schule s’n asook die twee besoekende skole; Luneburg en Michaelis van Vryheid, s’n. Die blaasorkes het ’n fenomenale vertoning gelewer en die Suid-Afrikaanse Volkslied so wel as Duitse Volkslied is gespeel. Pastoor Mark Meier het die oggend geopen met Skriflesing en gebed terwyl mnr.

Kurt Lilje, Wittenberg Schule se hoof, elkeen by die byeenkoms verwelkom het. Eerste op die program was die 600m en atlete van Luneburg het pragtig presteer. Daar is selfs verskeie nuwe rekords aangeteken en dwarsdeur die dag is daar prestasies behaal en elkeen het baie goed gedoen.

Die verversingskomitee het voorsiening gemaak vir al die honger mae met heerlike kerrieen- rys sowel as pannekoek. Daar is ook smaaklike jaffels deur die gr. 7-ouers verkoop en die snoepiepersoneel was reg met versnaperings.

’n Hoogtepunt van die dag was toe Wittenberg Schule se seuns en dogters die toutrekkompetisie gewen het.

Die Wittenberg Sportfest het tot ’n einde gekom deur die vlae op die gepaste wyse te stryk. Hierdie byeenkoms sou beslis nie moontlik gewees het sonder lojale donateurs en ondersteuners nie.

Baie dankie aan TWK Agri vir hul skenkings asook hul plante om die rostrum te versier. Julle voortdurende belangstelling word opreg waardeer.

Die trofeewenners was soos volg: Mini-Junior Victor Ludorum – Nala Shabangu (Michaelis) Mini-Junior Victrix Ludorum – Owami Mthethwa (Michaelis) Junior Victor Ludorum – Carlo Niebuhr (Wittenberg) Junior Victrix Ludorum – Anna Meyer (Luneburg) Senior Victor Ludorum – Cado Bwato (Michaelis) Senior Victrix Ludorum – Sazi Mdletshe (Michaelis)

Hierdie byeenkoms vind volgende jaar by Luneburg Schule plaas en die gemeenskap, asook leerlinge sien alreeds baie uit daarna.