Silvia Böhmer tree af

Silvia Böhmer tree af
Op Maandag, 19 Februarie, het van Silvia se vriendinne haar bederf met ’n koek-en-tee in die winkel

Vir die afgelope 34 jaar, was Silvia Böhmer die “blomme-tannie” van die dorp wat almal gehelp het om die goeie tye te vier en vertroosting gebring het in slegte tye.

Om ’n bloemiste te besit was nog altyd in Silvia se bloed. In 1967 het haar ma, Meta Kohrs, die eerste bloemiste geopen en, nadat dit aan ander persone verkoop is, het Silvia dit in 1984 gekoop. Sy het eers saam met ’n vennoot, Melanie Lammerding, gewerk en nadat sy uit die besigheid getree het, het Silvia ander handlangers gekry om met die werk te help.

Ongeveer tien jaar gelede het haar man, Horst Böhmer, besluit om haar in die winkel te begin uithelp. In 2014, het hulle besluit om uit die winkel in Kerkstraat te trek, en vind toe hulle nuwe tuiste by die huidige winkel in die Alfa Gebou. Om die bloemiste te bedryf was beslis Silvia se passie, en al gaan sy haar tyd in die winkel mis, sien sy ook uit na die nuwe lewensfase wat vir haar en haar man voorlê.

Na jare van in die winkel leef en by die huis kuier, begin die proses nou om hulle huis ’n tuiste te maak. Dit sluit onder andere in om hulle hande in die grond te kry en aan hulle tuin by die huis te werk. Op Maandag, 19 Februarie, het van Silvia se vriendinne van die leë tafels in die winkel gebruik gemaak om ’n koek-en-tee vir haar te hou om die huidige fase van haar lewe af te sluit.

Ons hoop Silvia en Horst geniet die aftree-lewe en ons sal beslis hulle vriendelikheid en hulpvaardigheid in die winkel mis. Geen probleem was te groot nie en as jou idee vir ’n blommerangskikking nie kon realiseer nie, was Silvia vinnig reg om met haar kundigheid aan ander idees en raad te gee.