Plaasmoord naby Chrissiesmeer
(Ermelo Insight) die voertuig van wyle Hantie van der Vyver is naby Tjakastad, in die Badplaas area, gevind

Volgens TLU-SA (Transvaal Landbou- Unie Suid-Afrika) se statistieke vanaf 1 Januarie 2018 tot Maandag, 5 Maart, is ’n totaal van 17 plaasaanvalle en 4 -moorde in die Mpumalanga streek gerapporteer en staan dié syfer op Nasionale vlak tans op ’n skokkende 11 plaasmoorde en 85 –aanvalle.

Gedurende die laatmiddagure of aand van Maandag, 26 Februarie, is ’n 71-jarige vrou van die Welgelegen plaas, tussen Ermelo en Chrissiesmeer, gruwelik vermoor tydens ’n plaasaanval. Volgens mnr. Henry Geldenhuys, Nasionale Voorsitter van TLU-SA, het mev. Hantie van der Vyver nie op Dinsdag, 27 Februarie, op die Plaaswag se radioroep gereageer nie waarna daar verder ondersoek ingestel is en die Plaaswaglede op haar liggaam afgekom het.

Ten tye van publikasie kon die manier waarop die slagoffer vermoor is, nog nie bekend gemaak word nie, maar volgens berigte is sy vermoedelike verwurg. Die SAPD is ontbied na die toneel waarna daar vasgestel is dat twee televisiestelle, ’n skootrekenaar, haar selfoon asook haar Isuzu bakkie gesteel is.

Die bakkie is later die oggend van Dinsdag, 27 Februarie, naby Tjakastad in die Badplaas-gebied, gevind deur ’n privaat vlieënier. Volgens mnr. Geldenhuys duur die ondersoek voort en is daar nog geen arrestasies in hierdie verband gemaak nie.

Hy het aan die Excelsior Nuus genoem dat sedert 1990, ’n angswekkende 1 949 plaasmoorde en 4 622 – aanvalle aangemeld is, waarvan dit nie net statistieke is wat die boere en hul familie betref nie, maar ook aanvalle insluit op plaaswerkers asook hul besoekers en gaste van die boer en sy gesin.