Piet Retief Rugby Klub skop af

Piet Retief Rugby Klub
Piet Retief Rugby Klub

Die Piet Retief Rugby Klub het op Saterdag, 24 Februarie, met ’n groot gejuig die jaar se verrigtinge afgeskop tydens ’n Rugbydag in Malelane.

Vroegoggend het die spanne vertrek na Malelane om die gevreesde Superligaspan van Witrivier aan te pak, maar ongelukkig het die tweede span se bus die pad byster geraak en by Josefsdal Grenspos opgeëindig wat beteken het dat hulle nie hul wedstryd kon speel nie. Baie geluk aan die 1ste span wat skoonskip teen Witrivier gemaak het en 11-8 gewen het.

Piet Retief se eerstes was beslis die helde van die dag! Op Saterdag, 3 Maart, vertrek die rugbyspanne na Barberton. Die tweedes wen hul wedstryd met ’n eindtelling van 15-0 en die eerstes verloor met 10-24. Baie dankie aan Berno Böhmer, Tiaan Bekker, Bryce Pretorius en Armand Fourie wat vir beide die eerste – en tweede span uitgedraf het, dit word opreg waardeer.

Piet Retief Rugby Klub wil graag verskeie datums onder die gemeenskap se aandag bring en elkeen se ondersteuning gedurende hierdie wedstryde sal opreg waardeer word. Saterdag, 17 Maart, is daar ’n Rugbydag op Dundee en PRRK se spanne gaan vir Sentraal takel. Op Dinsdag, 20 Maart, beplan PRRK se tweedes om Pongola die stryd aan te sê terwyl die eerste span ’n wedstryd teen ’n Amerikaanse span uit Philadelphia, gaan speel, beide op tuisbodem.

Moet hiérdie wedstryde nie misloop nie! Dan word daar met groot opgewondenheid aangekondig dat op Saterdag, 9 Junie, die Cell C Sharks teen die Leopards op PRRK se gronde te staan sal kom.

Ja, jy het reg gelees – vir die eerste keer in die geskiedenis, gaan ’n Provinsiale span hier op Piet Retief se rugbyveld kom speel! Hou gerus die Excelsior Nuus dop vir meer inligting aangaande hierdie dag.

Dié wedstryd sal stiptelik om 17:00 afskop, maar PRRK se eerste – en tweede span kom teen Newcastle te staan vroeër die dag, so dit beloof om ’n dag vol rugby-aksie te wees.