Ongeluksverslag; Mkhondo Fire & Rescue

Mkhondo Fire & Rescue
Die bestuurder van die Nissan het weens ’n onbekende rede beheer oor die voertuig verloor en dit het gerol op die Ermelopad

Die volgende inligting aangaande ongelukke op die plaaslike paaie is bekendgemaak deur Mkhondo Fire & Rescue.

Op Maandag, 19 Februarie, om 23:20, was twee vragmotors betrokke in ’n ongeluk op die Ermelopad, met een persoon wat ernstige beserings opgedoen het. ’n Groot vragmotor het in die Ermelo-rigting gery en ’n kleiner vragmotor in die teenoorgestelde rigting. Albei vragmotors het die pad verlaat en omgeslaan, maar die definitiewe oorsaak is nog onbekend. Daar word vermoed dat die groter vragmotor moontlik met die kleiner vragmotor se waentjie gebots het.

Op Saterdag, 24 Februarie, om 08:20, het twee persone ligte beserings opgedoen tydens ’n ongeluk op die Ermelopad. Die bestuurder van ’n wit Nissan-bakkie het in Piet Retief se rigting gery toe daar beheer oor die voertuig verloor is en dit gerol het. Tans is die rede waarom die bestuurder beheer verloor het, onbekend.

Op dieselfde dag, om 20:00, op die Pongolapad is een persoon lig beseer en ’n ander een dood. Die bestuurder van ’n grys Volkswagen Tiguan het om ’n onbekende rede beheer oor die voertuig verloor en dit het gerol. Volgens Kaptein Khanye, Kommunikasiebeampte van die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is ’n saak van strafbare manslag, CAS 259/02/18 geopen en die ongeluk word ondersoek.