Bybelverspreiding
Niemand was te oud of te jonk om saam te stap tydens die Bybel-pretloop nie

Op Saterdag, 24 Februarie, is die gemeenskap hartlik uitgenooi na ’n heerlike samekoms ten bate van Bybelverspreiding, asook ’n fondsinsameling vir die AGS Fontana Gemeente se kragopwekker.

Die verrigtinge het omstreeks 07:00 by die Piet Retief Gholfklub afgeskop waar bykans 100 geesdriftige mans, dames en kinders bymekaargekom het om deel te neem aan die Bybelpretloop. Daar was ’n 1 -, 2 – en 5 kilometer roete en die inskrywingsfooi het R50-00 per kilometer beloop.

Elke R50-00 word gebruik om ’n Bybel aan te koop wat later vanjaar deur ’n uitreik versprei sal word. Danksy elkeen se vrywillige betrokkenheid, kan daar met trots gesê word dat 1 000 Bybels aangekoop kan word!

Na afloop van die pretloop kon besoekers heerlik smul aan vars gebakte souttertjies en koffie terwyl die musiekspan hulself gereed gemaak het vir die dag se vermaak. Daar was heerlike sosaties, worsbroodjies en verskeie lekkernye vir die jongspan ook beskikbaar, terwyl die gholfers mekaar die stryd aangesê het oor ’n paar putjies.

Die dag is afgesluit met ’n skaap op die spit en almal het heerlik saamgeëet en gekuier. Baie geluk aan die wenspan, Guido Freise en sy spanlede, en Dupie van Rensburg en sy span wat tweede plek behaal het. AGS Fontana Gemeente wil graag vir elkeen baie dankie sê vir hul ondersteuning en hulp gedurende hierdie geleentheid.

Baie dankie ook aan die Piet Retief Gholfklub, Jaco Smit en JP du Toit vir die gebruik van die klub asook die reëlings wat daarmee gepaard gegaan het. Elkeen wat ’n hand bygesit het om te verseker dat die dag se verrigtinge glad verloop, word ook bedank.