Wittenberg Interhuis 2018
Wittenberg Interhuis 2018

Wittenberg Schule het op Saterdag, 27 Januarie, hul jaarlikse Wittenberg Interhuis atletiekbyeenkoms gehou en dit was weereens ’n heerlike samekoms!

Met aanvanklike kommer vir ’n sopnat, reënerige dag, het dit op die ou end bloedig warm uitgedraai en kon elkeen sy beste voetjie voorsit tydens die verskeie baan- en velditems. Alhoewel min tyd bestee is op voorbereiding vir die byeenkoms, is daar steeds uitstekende prestasies behaal en daar was ook ’n rekord of twee aangeteken.

Baie geluk aan Willie Landman met sy rekord vir gewigstoot O/10 seuns en De Wet Albasini, met die rekord vir die 30m Aartappelresies vir O/7 seuns. Die sportveld het pragtig vertoon en die skool wil graag vir Con van der Plas bedank vir sy insette en hulp daarmee. Die kosstalletjies is deur verskeie ouers beman en hulle het verseker dat die besoekers nie vir ’n oomblik honger of dors gelei het nie.

Geluk aan die Witspan wat as die Geesbeker kampioene weggestap het, terwyl die Rooispan as wenners van die dag aangekondig is. Die volgende atlete het uitmuntende prestasies behaal: Beste Baanatleet – Melanie Hiesterman Beste Veldatleet – Zelma Böhmer Junior Victrix Ludorum – Sieglinde Meyer Junior Victor Ludorum – De Wet Albasini Senior Victrix Ludorum – Kyra Meier Senior Victor Ludorum – Carlo Niebuhr ’n Hartlike dank aan elke borg, ouer, ondersteuner en personeellid van Wittenberg Schule vir hul bydraes.

Baie dankie ook aan HCH Elektries en TyreMart in Piet Retief vir jul ruim skenkings.