Verwyder slange uit jou huis

Verwyder slange uit jou huis
Verwyder slange uit jou huis

Die afgelope ruk het baie inwoners begin navrae doen oor wie hul kan skakel indien daar ’n slang in hul huis is en watter stappe geneem moet word indien iemand gepik word deur ’n slang.

Piet Retief het twee persone wat gelys is op Suid-Afrika se slangverwyderinglys, naamlik Schubert Smith en sy seun, Alexander. Schubert is deur die Excelsior Nuus gekontak om meer inligting aangaande slange vir die gemeenskap te gee. Hierdie pa en seun se belangstelling in slange het begin toe Alexander ’n slang gesoek het vir sy vierde verjaarsdag. Die stokperdjie het hulle “gebyt” en later het hulle meer as dertig slange gehad.

Hulle versameling slange het uitgebrei en giftige slange begin insluit. Hulle het kursusse voltooi om te leer om slange te hanteer en te identifiseer en om meer oor hul gewoontes te leer. Alhoewel droogte ’n rol kan speel en maak dat slange na wonings gaan, is die rede gewoonlik heel eenvoudig: hulle is op soek na kos.

’n Slang kan na jou woning toe kom agter ’n muis, rot of padda aan. Indien jy wil verhoed dat slange na jou erf toe kom, verwyder enige boumateriaal wat rondlê, ashope en visdamme waar paddas kan skuil. Die mees algemene giftige slange wat in Piet Retief voorkom is nagadders, pofadders en rinkhalse, maar spoegkobras and mambas is ook al opgemerk. Die inwoners word versoek om nie slange dood te maak nie. Dit kan eerstens baie gevaarlik wees en slange is die natuur se manier om rotplae en muisonder beheer te hou.

Google eerder die “snake removal list of South Africa” en skakel ’n kenner op die gebied om die slang vir jou te kom verwyder. Indien jy of ’n familielid deur ’n slang gepik word en onseker is watter tipe slang dit is, is dit altyd die beste opsie om ’n dokter of hospitaal te besoek. Hospitale hou nie teengifmiddels aan nie, maar dit kan verkry word deur ’n dokter wat die African Snakebite Institute skakel. Die instituut kan ook direk gekontak word op hulle noodnommer, 021 931 6129, of hul webtuiste kan besoek word,

www.africansnakebiteinstitute.com

Die eerste ding om te doen wanneer ’n slangbyt behandel word is om die tipe slang te identifiseer. Slange het verskillende tipes gif en hierdie inligting word benodig om die korrekte behandeling toe te pas. Moet nooit die gif uit ’n wond probeer suig of die wond oopsny nie. Moet ook nooit dat mediese personeel die wond oopsny nie. Kry die pasiënt so gou moontlik by ’n hospitaal sodat suurstof aan die pasiënt gegee kan word.

Indien ’n slang in ’n publieke plek of in jou erf gewaar word wat ’n gevaar vir jou of jou diere kan inhou, skakel Schubert op 083 273 6427 sodat die slang verwyder kan word. Bewaar ons natuur en moet nie onnodiglik slange doodmaak nie.