Gemeenskap neem afskeid van oom Dawid Zeelie

Dawid Zeelie
Dawid Zeelie

Op Maandag, 29 Januarie 2018, het die gemeenskap van Piet Retief afskeid geneem van geliefde mielieboer, Dawid Zeelie.

Dawid Zeelie is gebore op 9 Januarie 1928 en verhuis vanaf Springbokvlakte na Dirkiesdorp in 1970. Hy neem in 1984 afskeid van sy eerste vrou, Ina, en trou later dieselfde jaar met Mathilda Stapelberg. In November 1989 tree hulle af en trek van die plaas af na ’n huis in Kortstraat in Piet Retief.

Aan die einde van 2008 verhuis hulle na Middelburg en op 12 Julie 2017 word Dawid opgeneem in die SAVF Ouetehuis. Deur sy familie, word Dawid onthou vir die wysheid wat hy gehad het om te deel, maar ook hoe hy kon lag en grappies maak. Terwyl hy nog woonagtig was in Piet Retief, was Dawid altyd betrokke by die kerk. Tot aan die einde van sy lewe was hy ook ’n Christen om na op te kyk.

Sy roudiens het op Vrydag, 2 Februarie, uit die NG Gemeente Piet Retief plaasgevind. Dawid Benjamin Zeelie sal nog vir baie lank onder die boeregemeenskap van Piet Retief en die omliggende areas onthou word.

Al het hy reeds vir ’n ruk lank afgetree, was die plaas maar steeds in sy hart. Soos sy dogter, Mariëtte, gesê het: “’n Mielieboer het in die hemel gearriveer!”