Mathys Roets kuier in Piet Retief

Mathys Roets
Mathys Roets het puik optredes gelewer tydens sy onlangse besoek aan Piet Retief

Op Dinsdagaand, 30 Januarie, en Woensdagaand, 31 Januarie, is Piet Retief in vervoering gelaat na uitstekende optredes deur Mathys Roets.

Op die maat van beide Afrikaanse en Engelse klassieke liedjies, het die gaste se voete heeltyd by die maat van die musiek gehou terwyl hulle Mathys se stem en talent geniet het. Mathys is tans op pad na KwaZulu- Natal en tree in talle kleiner dorpies langs die pad op. Sy volgende stop is Pongola.

Mathys sê hy verkies om kleiner optredes te hou, aangesien die atmosfeer meer intiem en gesellig is. Soos hy optree, kyk hy ook heeltyd vir die gehoor en laat elkeen voel of daar vir hom/haar persoonlik gesing word. Na sy motorfietsongeluk in 2009, is Mathys in ’n rolstoel, maar hy voel nie dat die rolstoel hom beperk om sy lewe ten volle te geniet nie.

Spottend vertel hy dat hy altyd toelaat dat ander hom help om in en uit sy voertuig te klim (al doen hy dit self vinniger) – al probleem is dat die helpers nie altyd weet of hy besig is om in of uit sy voertuig te klim nie! Mathys is geen vreemdeling vir Piet Retief se mense nie. Volgens hom, was een van sy heel eerste optredes, toe hy net begin het met sy musiekloopbaan, juis in Piet Retief gehou.

Hy dink die pad hiernatoe is ongelooflik mooi en hy hou baie van ons omgewing. Hy erken dat, die bome wat ons al so as vanselfsprekend aanvaar, vir hom asemrowend mooi is. Die inwoners van Piet Retief het beslis hierdie optredes baie geniet! Mathys het dit ook geniet om na sy vertonings die mense te ontmoet. Hy noem in die besonder dat hy verskriklik bederf is by die gastehuis waar hy gebly het. Ons sien uit na ’n volgende kuier van Mathys en om weer deur sy besondere stem betower te word.