Lewensirkel van Jannie Gouws voltrek

Jannie Gouws
Lewensirkel van Jannie Gouws voltrek

Dit is met groot leedwese dat die gemeenskap van Piet Retief op Donderdagoggend, 8 Februarie 2018, moes afskeid neem van ’n legende, mnr. Jannie Gouws. Jannie is op 22 November 1948 in Pretoria gebore en het skoolgegaan in Amsterdam.

Die Excelsior Nuus se eerste uitgawe het op 1 Maart 1963 verskyn en twee jaar later, het Jannie Gouws by die span aangesluit in 1965, op die ouderdom van net 17 jaar oud. Hy was werksaam by die Excelsior Nuus vir 48 jaar en het amptelik in Desember 2013, op die ouderdom van 65, afgetree.

Jannie het menige nuwe kollega touwys gemaak – altyd rustig en ontspanne. Sy taalvaardigheid was ook puik. Van sy eertydse kollegas het die volgende van hom gesê: Ken: “Baie van wat ek geleer het, was deur jou en ek sal altyd dankbaar wees daarvoor. Rest in peace Jannie.” Eurika: “Dit kan dol gaan by die koerant en daar is altyd sperdatums. Jannie was altyd rustig en het ons ander ook kalm gehou! Ook sal ek sy droë humorsin onthou.” Monica: “Jannie was altyd vriendelik en vol pret.

En dankie vir die deel van jou lekker toebies, jy sal gemis word.” Moosa: “Ons het mooi saamgewerk en ek kon altyd met jou oor enigiets praat. Sal jou altyd onthou!” Amod: “Go well!” Tahir: “We will always remember you.” Kansas: “Rest in peace.”

Op Maandag, 12 Februarie, is sy roudiens deur Ds. Roelf van Niekerk waargeneem vanuit die NG Kerk, in Piet Retief. Jannie laat sy eggenoot, Lina, drie kinders en vier kleinkinders na. Die familie wil graag elkeen bedank vir hul liefde, bystand, hulp en ondersteuning.