Genade – onbeskryflik groot

Genade - onbeskryflik groot
Pieter Pretorius se verhaal laat ’n mens opnuut glo

Pieter Pretorius se getuienis laat ’n mens opnuut besef dat daar vir seker ’n God is en dat jy ’n doel hier op aarde het – Hy sal besluit wanneer jy jou doel gedien het.

Daar is soveel haat en verwerping in Suid-Afrika weens gevalle waar mense op die grusaamste maniere denkbaar aangeval en beroof word en telkemale is dit byna onmoontlik om vergifnis in jou hart te vind. 7 Februarie 2003 het vir Pieter soos enige ander dag begin toe hy gereed gemaak het om sy dagtake te verrig en lone te gaan uitbetaal.

Omstreeks 06:00 is Pieter weg by sy woning en roep sy vrou, Suzette, oor die twee rigting radio. Pieter sê vir haar: “Hoekom so deur die slaap, dis tyd vir opstaan. Geniet julle dag, sien julle later.” Suzette antwoord hom: “Lief vir jou, sien jou later.” Min het Pieter geweet dat, binne die volgende paar minute, sy lewe soos handomkeer sou verander en dat hy na sy ervaring nooit weer dieselfde mens sou wees nie.

By ’n enkelbruggie naby Soetmelk, in die omgewing van Vryheid waar hy woonagtig was, word hy deur ’n voetganger op die brug gewys om te stop. Toe Pieter verby die man ry, klap die eerste skote. Nog twee gemaskerde mans spring voor die brug uit, en is albei gewapen met AK47 outomatiese gewere.

Pieter het dadelik besef hy is in ’n lokval en roep uit, “Jesus, Jesus, U is nou in beheer,” terwyl die skote rondom hom klap. Die eerste skoot mis sy kop skrams en ‘n plakker agter op die voertuig lees: “My higher power is in Jesus.” Hy besluit om sy Land Cruiser in tweede rat te sit en te jaag sodat hy die persoon met die outomatiese geweer kan raakry, maar Pieter mis hom en nog drie skote klap, een daarvan tref hom in die rug en hy gryp na sy sy – dis net bloed! Pieter reik na sy tweerigtingradio en roep sy vrou en broer, Steve.

Hy skree dat hy aangeval is op Soetmelk se bruggie en meteens sien hy hoe een van die rowers in ’n voertuig spring wat langs die bruggie versteek was en hom agtervolg, maar die Land Cruiser ry vinniger. “Dankie, Jesus, U is mos in beheer,” roep Pieter uit! Ongeveer 4 kilometer verder, bring Pieter sy voertuig tot stilstand en raak bewusteloos weens die hoeveelheid bloed wat hy verloor het.

Voor dit gryp hy die aktetas met geld wat in sy voertuig versteek is en steek dit in die veld weg. Hy hoor die gedreun van ’n voertuig wat nader kom. Pieter gryp sy .45 handpistool, maar besef dit is sy broer wat ongeveer 2 kilometer agterna gery het en tot sy redding gekom het. Steve jaag met Pieter na Paulpietersburg/Vryheid, in die area van die Solmse se plaas, waar Crit Evac Ambulansdienste op ‘n gereedheidsgrondslag op hom gewag het.

Tydens die rit, lui ’n selfoon en noodpersoneel verduidelik vir Steve wat hy moet doen waar die bloed uit Pieter se wonde spuit. Dis vreemd, want in die betrokke area, is daar geen selfoonopvangs nie! Langs die pad het Steve en Piet du Preez hande vir Pieter opgelê en gebid aangesien Pieter reeds dood verklaar was deur ‘n verbygaande dokter. Sy laaste woorde was: “Dankie Jesus, dankie,” Pieter was veilig in Koning Jesus Christus se arms tot omstreeks 9:55, toe hy by die hospitaal in Newcastle aankom.

Tydens dié gebed, sê Pieter het dit gevoel of hy deur ‘n weerligstraal getref is. Gerugte in Vryheid het reeds die rondte gedoen dat Pieter doodgeskiet is tydens ‘n rooftog en ‘n skool het ‘n minuut se stiltetyd vir hom gehou. Na ’n uitmergelende 4-uur operasie en 12 dae in die hospitaal, leef Pieter vandag!

Vyftien jaar later wil Pieter steeds elkeen bedank wat hom gehelp en bygestaan het, want deur die liefde en genade van Jesus wat in sy lewe ’n daadwerklike verskil gemaak het, kon Pieter sy rowers vergewe en vryspreek, sonder om ’n wrok met hom saam te dra. “Ek bid dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd, hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle Sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” Efesiërs 3:17-18