Die afgelope maand of twee is die land se weerpatrone baie onvoorspelbaar en Suid- Afrikaners maak deesdae gereed vir die ergste wanneer donkerwolke en weerlig verskyn.

Gedurende verlede week, was daar ’n hewige haelstorm, wat gepaardgegaan het met stormsterk wind en reënbuie in die omgewing van Sheepmoor. Daar is verskeie inwoners in die gebied wat skade gely het en die Excelsior Nuus wil graag simpatiseer met diegene wat verliese gely het tydens die storm.

’n Tornado en hewige haelstorm rig skade aan
’n Tornado is op Maandag, 11 Desember, in die omgewing van Standerton en Morgenson aangeteken

Inwoners in die gebied kon ten tye van publikasie nie in die hande gekry word om die presiese skade te bevestig nie. Op Maandag, 11 Desember, het inwoners van Piet Retief hul vergaap aan angswekkende wolkformasies wat oor die dorp gevorm het. Teen omstreeks 18:30 het ’n donker wolk die dorp omvou en mense het hulself gereed gemaak vir ’n enorme storm.

Gelukkig vir Piet Retief, het hiérdie storm vinnig oorgewaai, maar inwoners in die omgewing van Morgenson en Standerton was nie so gelukkig nie. Daar is berigte dat ’n tornado deur die betrokke streek is en geweldige skade is aan huise en landerye aangerig. ’n Mens kan maar net hoop dat die mense wat skade gely het, weer vinnig daarvan sal herstel.

Hierdie jaar se reënseisoen bring egter nie net broodnodige reën nie, maar dit wil nou blyk of die meeste van die reënbuie ook gepaardgaan met stormagtige toestande soos rukwinde, hael en vloedreën. Wees maar te alle tye versigtig en hou gerus die weerpatrone daagliks dop op Suid-Afrikaanse Weerdiens webtuiste.