Funduro wedren 2017

Funduro wedren 2017
Baie geluk aan Shane Potgieter, wenner van die stadige fase vir motorfietse

Op Saterdag, 2 Desember, het verskeie inwoners van Piet Retief deelgeneem aan ’n Funduro wedren, ten bate van die Nederduitsch Hervormde Kerk.

Daar was kompetisies vir motorfietse, vierwielmotorfietse en bergfietse. Daar was altesaam 75 motorfiets en vierwielmotorfiets inskrywings, sowel as 35 bergfiets inskrywings. Die motorfietswedren het uit drie fases bestaan: ’n stadige fase, ’n spoedfase en ’n 30 kilometer baan.

Om die roete te voltooi, moes die motorfietsryers twee uitdagings voltooi. Die eerste was om teikens met ’n windbuks te skiet waarna hulle iets te drinke kon kry en die tweede was om ’n lekker uit ’n bak meel uit te soek sonder om hul hande te gebruik.

Baie geluk aan die wenners van elke afdeling: – Stadige fase – Shane Potgieter – Spoedfase – Devan Smit met ’n spoed van 134 km/h oor 200 meter – Baan – Devan Smit met ’n tyd van 29:00 minute Vir die vierwielmotorfietse was daar twee kompetisies. Die eerste was ’n spoedfase en dan was daar ook ’n blinddoekbaan.

Tydens die kompetisie is die bestuurders geblinddoek en ’n ander persoon, saam met hulle op die vierwielmotorfiets, het vir hulle beduie waar om te ry. Baie geluk aan die wenners van hierdie afdeling: – Spoedfase – Fanie Lerm met ’n spoed van 104 km/h oor 200 meter – Blinddoekbaan – Jannie Meyer Daar was ook ’n motorfietsuitstalling, met 18 motorfietse, wat by die Piet Retief Rugbyklub vir toeskouers beskikbaar was.

Baie geluk aan Madz, van die Roadhogs in Richardsbaai, wat die toekenning ontvang het vir die gewildste motorfiets. Deelnemers in die bergfietspretrit kon kies tussen ’n 25, 12 en 1 kilometer roete. Na die reën van Woensdag en Donderdag, was die roetes deur die plantasies tegnies uitdagend.

Hierdie rit was net vir die pret en geen wenners is aangewys nie. ’n Skyfskietkompetisie is ook gereël en Johann Terblanche het weggeloop, as wenner van dié kompetisie, met sy broer Coenraad Terblanche in die tweede plek. Mkhondo Fire and Rescue het ook die dag bygewoon en ’n bewusmakingsveldtog geloods. Die gemeenskap het inligting ontvang oor die gevare van vuurwerke en wat gedoen moet word om vuurwerke wettig te mag afvuur.

Ten spyte van die reënerige weer, het die kinders heerlik baljaar in skuim. Baie dankie aan elkeen wat hierdie dag moontlik gemaak het. Die organiseerders wil graag die volgende persone bedank vir hul ondersteuning: Werner van Pick n Pay in Kerkstraat, Estelle van FAR, Charl van Eagle Protection, Pieter van Wimpy, Thys van die Rugbyklub, Johan en Anton van Mkhondo Fire and Rescue en Mahomed van Piet Retief ICU.

Baie dankie aan elkeen wat deelgeneem het aan die dag en gesorg het dat dit ’n groot sukses is. Daar sal volgende jaar weer so ’n dag gehou word en die organiseerders beplan reeds dat dit selfs nog groter sal wees as dié jaar.