Wittenberg Fun Ride en Lutherse Kerkbasaar

Wittenberg Fun Ride en Lutherse Kerkbasaar
Die Wittenberg Fun Ride was ‘n reusesukses

Op ’n ysige, 8o Saterdagoggend, op 28 Oktober, het mense van heinde en verre by Wittenberg Schule se gronde bymekaargekom vir die jaarlikse Wittenberg Fun Ride en hierdie jaar was die funksie in samewerking met die Afrikaanse Lutherse Gemeente van Piet Retief gehou.

Die oggend het afgeskop met die luidrugtige gebrul van twee– en vierwiel motorfietse se ryers wat gereed gemaak het om deel te neem aan ’n heerlike modder- roete. Daar was twee roetes wat die deelnemers kon geniet. Die 20km roete was ontwerp as ’n gesinsroete, waaraan verskeie kinders en hul familielede deelgeneem het. Dan was daar ook die 50km roete wat meer vir die gesoute ryers uitgewerk is.

Tussen al die gebrul deur, kon besoekers weglê aan ’n heerlike ontbyt wat deur gemeentelede van die Lutherse Kerk voorberei is. Regdeur die dag, het vrywillige werkers smaaklike etes aan die besoekers voorsien en daar was ook vermaak vir die jongspan beskikbaar. Selfs die motreën en ysige wind kon die kinders nie stuit om na hartelus op die springkastele te baljaar nie.

In geheel, was daar ongeveer 120 inskrywings vir die pretrit en na afloop van die roetes, was dit tyd vir die gelukkige trekking en prysoorhandiging. Baie geluk aan Dylan, wat ’n prys ontvang het vir die jongste persoon wat die 20km roete eerste voltooi het. Ongeveer 40 pryse is gedurende die gelukkige trekking uitgedeel en daar was geen tekort aan ’n verskeidenheid pryse nie. Die dag is deur ieder en elk geniet en die organiseerders van die Wittenberg Fun Ride tesame met die lede van die Lutherse Gemeente wil graag elke besoeker hartlik bedank vir hul bydrae tot die sukses van die dag.

Verder wil die gemeentelede van die Lutherse Kerk ook die organiseerders van die Wittenberg Fun Ride bedank vir die geleentheid om die basaar saam met hulle te kon aanbied. Baie dankie aan elkeen vir ruimhartige donasies asook aan ons Hemelse Vader wat dié jaarlikse instelling geseën het.