Dit was nat en dit was koud, maar dit was vet pret! Op Saterdag, die 7de Oktober, het verskeie gemeenskapslede, asook besoekers, gereed gemaak vir die jaarlikse TWK Wattle Combat Race.

Weereens was dit een vir die boeke en sal daar nog vir baie lank gesels word oor die fantastiese ervaring! Deelnemers kon inskryf vir die 4km Gum Run of die 10km Black Wattle, wat natuurlik uitgewerk was vir die meer ernstige (en fikser) atlete. Die 4km Gum Run was familie georiënteerd en het bestaan uit sewe hindernisse, wat definitief geskik was vir elke lid van die familie.

Met die 14 hindernisse wat in die 10km Black Wattle oorkom moes word, was dit voorwaar ’n uitdaging, dog was dit onvergeetlik. Spanne het werklik saamgekom en mekaar ondersteun en gehelp om oor die hindernisse te kom. Wie sou kon dink dat dit so moeilik is om teen ’n muur van motor bande op te klim en dan weer aan die ander kant tot op die grond te kom? Indien jy nie daarin kon slaag om ’n hindernis te voltooi nie, moes jy ten minste 20 opstote doen.

Tussendeur al die modder, water en plantasiepaadjies is dié jaar se Wattle Combat voorwaar deur elke deelnemer geniet. ’n Mens kan werklik jou “modder” tekkies agternagooi en vir elkeen baie geluk sê wat deelgeneem het. Knap gedaan ook aan die volgende wenners van die Wattle Combat 2017 – julle het uitstekend gevaar!

4km Gum Run: 1ste Span – A team met ’n tyd van 17:55 1ste Persoon – H. Lamprecht met ’n tyd van 19:30 10km Black Wattle: 1ste span – A team met ’n tyd van 53:20 1ste Persoon – Juan Niebuhr met ’n tyd van 46:35 Baie geluk ook aan TWK Verseke-ring, wat die prys gewen het vir die beste waterpunt. Die glybaan het moontlik ’n paar bloukolle veroorsaak, maar dit was beslis ’n wenner vir die dag! Dankie Vince Aslett vir die foto’s