Hennie Smit by Silwerjare Dienssentrum

Hennie Smit
Hennie Smit kuier saam met Silwerjare Dienssentrum

Op Donderdagoggend, 31 Augustus, is die lede van Silwerjare Dienssentrum verras met ‘n heerlike oggend saam met Hennie Smit.

Die lede het nie vooraf geweet wat hul gaan doen nie en was baie verras toe hul hoor dit is regtig Hennie Smit wat in die hoek sit en vir hulle wag. Tussen stories deel en saamsing, het almal die oggend heerlik gevind. Hennie het elkeen teruggeneem na hul jongdae met liedere soos Suiderland, Swartland en ‘n Klein Karoo Medley wat net die beste in Afrikaanse musiek vier. Daar is ook geheime oor die lewe in ‘n aftree-oord gedeel (met beloftes wat gemaak is dat hierdie stories nooit uitvertel sal word nie).

Hennie Smit kuier saam met Silwerjare Dienssentrum
Hennie Smit tydens ‘n opvoering van “So ‘n Dag”

Almal kon saamstem dat vriendskap en ware liefde twee baie belangrike elemente in elke persoon se lewe is. Hennie het ook die lede herinner dat hulle perskebome is wat deur God hier gelos is om te blom, maar om steeds iets mooi en goeds in die wêreld voort te bring. Voordat almal saamgeëet het, sluit Hennie dan af met ‘n hartroerende uitvoering van Koos du Plessis se lied, Gebed.

Baie dankie aan TWK Agri wat hierdie dag geborg het. Die lede van Silwerjare Dienssentrum het elke deel van die oggend verskriklik baie geniet en waardeer.