Praktiese Skietklub Nuus
Pieties - Interprov 2017

Skietklub Nuus. Die moontlikheid van bloeddorstige aanvalle deur groot troppe ysbere het nie die manne afgeskrik om die ysige modderweer te trotseer by verlede naweek se Interprovinsiale Kampioenskap in Secunda nie.

Elke jaar sê Mpumalanga en Limpopo mekaar die stryd aan om die Interprovinsiale wisseltrofee. Verlede jaar het Limpopo “ons” trofee noord laat verhuis, en ons was vasberade om die bordjies te verhang. Om die saak nog meer ernstig te maak, het noord-Natal ook nog tot die stryd toegetree, wat beteken dat ons nou in ‘n taai Tri-Nations stryd betrokke was.

Ek is trots om te sê dat drie van die vier Mpumalange standaard spanlede uit die Skiet-pietie geledere gekom het. Dawie de Bruin, Johnny Naudé en JC Potgieter het saam met springbokskut Paul Loock van Secunda, die Mpumalanga vlag laat wapper. En het hulle nie die vlag hoog gehys nie! Hulle het skoonskip gemaak in die standaardklas, en sodoende bygedra om die wisseltrofee weer huistoe te bring!

Baie geluk, manne. Julle het Piet Retief se naam hooggehou! Om die sout net meer in die wonde te vryf, het JC ook die standaardklas algeheel gewen. Dit was ‘n skitterprestasie waarmee hy ‘n Springbokskut of twee die loef afgesteek het! Dawie was vierde algeheel met 76%, en Johnny was sewende met 69%.

Dit is werklik merkwaardige skietkuns waarmee die manne vorendag gekom het! Johan Prinsloo het na ‘n lang stryd teen meganiese goggas sy pistool weer aan die gang gehad, en ‘n goeie tiende plek in die standaardklas behaal.

Dieter Loubser het in die produksieklas deelgeneem, en in sy heel eerste provinsiale liga ‘n baie goeie 44% geskiet in ‘n baie mededingende klas. Die ys is gebreek, Dieter! Welgedaan manne! Julle het weereens gewys dat Piet Retief skuts van wêreldgehalte het! Dit maak ons trots om Skiet-pieties te wees! Wederom, Lood.