Matrikulante van 1962 hou 55-jaar reünie

Matrikulante van 1962 hou 55-jaar reünie
M. Vermaak, B. Meyer, A. Fischer, I. van Niekerk, M. Richter, H. Vermaak, C. Lundie, A. Meyer, B. Spaarwater, G. Voges, W. van der Merwe, F. Plant, B. Meyer, J. Rudolph, F. Potgieter en H. Steenkamp

Dit wil gedoen wees – 1962 se matrikulante van Hoërskool Piet Retief het op Saterdag, die 25ste Maart, ’n ordentlike opskop gehou om hul 55-jaar reünie te vier, te Sunrise Restaurant.

Dié betrokke matriekgroep het oorspronklik uit 105 lede bestaan. Agt-en-twintig lede kon dit, weens omstandighede, nie bywoon nie en nege-en-twintig lede is reeds oorlede. Die groep van 81 persone het heerlik saamgekuier en almal was van mening dat dit die lekkerste reünie nóg wag.

Daar is ook gesê dat hulle soos een groot familie voel (dit, na 55 jaar) en ook die aangetroudes voel self al baie tuis in die groep. Daar is van ver af gekom. Selfs Collette Mocke, wat vanaf Londen afkomstig is, het opgedaag vir die groot jolyt!

Hiermee wil die lede graag vir Hendrik en Annatjie Steenekamp bedank vir hul gasvryheid en ook die personeel van Sunrise Restaurant vir die heerlike etes wat voorgesit is. Aangesien die jare so vinnig verbygaan, moet die groep dalk oorweeg om van nou af jaarliks reünie te hou!