PR Krieket Klub speel in die Community Cup

Krieket Klub
Die twee kapteins tydens die loot voor die wedstryd

Op Saterdag, 1 April, het die Piet Retief Krieketklub se mans teen Pretoria Old Boys Cricket Club gespeel tydens die semifinaal van die Community Cup 2017.

Nadat PRKK die loot verloor het, het hul ingegaan om te kolf. Dit was van die begin af duidelik hoekom POBCC besluit het om eerste te boul, en met hul skitterende én gedissiplineerde boulwerk was PRKK gou in die moeilikheid. Leon Solms en Andre Thomas se vennootskap was egter puik en hulle kasty die boulers goed. Andre vaar uitstekend en behaal 48 lopies van slegs 25 balle. Aan die einde van die wedstryd toon Alwyn Carstens ook mooi vorm en eindig met ‘n onoorwonne 15 lopies.

PRKK eindig hul 20 beurte op 123/5. POBCC se kolfbeurt skop soos ‘n tsunami af en hul behaal die wentelling redelik maklik. POBCC is moontlik een van die beste krieketklubs in Noord Transvaal – indien nie die beste span nie! Hul span beskik oor Titans, SA Skole en Provinsiale spelers en die jongmanne oefen ses keer per week in die nette. Dit was vir PRKK ‘n voorreg om in ‘n wedstryd teen opponente van hierdie kaliber te speel. Alhoewel hul nie gewen het nie, het hulle lesse geleer uit hierdie ervaring wat baie belangrik is:

  1. Die beperkte hoeveelheid spelers tot hul beskikking lei daartoe dat die span nie goeie diepte het nie en dit is belangrik dat ontwikkeling gedoen moet word.
  2. Om die spelers toe te laat om te verbeter moet hulle blootstelling kry tot meer wedstryde en ook wedstryde van ‘n hoër gehalte.
  3. Genoegsame voorbereiding is van kardinale belang. Alhoewel die spelers reeds twee keer Die twee kapteins tydens die loot voor die wedstryd per week oefen, kan hulle as gevolg van werk en ander verpligtinge nie altyd genoeg tyd in die nette deurbring nie.
  4. Die jong talent in Piet Retief moet ontwikkel word. Sonder jong spelers kan die klub nie verseker wees van ‘n rooskleurige toekoms nie.
  5. Sonder die ondersteuning van die gemeenskap kan hulle nie sukses behaal nie. Hopelik sal hul suksesse van die seisoen toeskouers lok vir die volgende seisoen.
  6. Fondse is belangrik as ‘n klub suksesvol wil wees. Die borge wat hul gehelp het in die 2016/2017 seisoen word opreg waardeer.

Volgende seisoen gaan reuse pogings aangewend word om deurlopende in-komste te verseker. Alles inaggenome, het PRKK uitstekend vertoon. Elke jaar raak die klub net beter en beter. PRKK sal voortgaan met die harde werk en sal vir seker Piet Retief trots maak.