Piet Retief Krieket Klub wen T20

Piet Retief Krieket Klub
Agter: Charl Beneke (wc), Andre Thomas, Romann Loubser, Juan Fryer, Andre Ridgard, Tiaan Engelsman, Leon Solms. Voor: Estean Sauerman, Alwyn Carstens, Anthony Yiollaris, Henk Swazi Nel (kapt.) en Pierre Coetsee

Op Saterdag, 25 Maart, het die mans van die Piet Retief Krieket Klub as wenners weggestap by die Mpumalanga Titans T20 Finaal nadat hulle Middelburg MOB oortuigend gewen het.

Die Premierliga is die hoogste liga waaraan enige span kan deelneem, en sluit spanne in van Ermelo, Middelburg, Secunda, Witbank en Nelspruit. Wat hierdie prestasie nóg meer beklemtoon is die grootte van die PRKK en dat hierdie klub nog nét vir 5 seisoene bestaan. Selfs nadat dit vir die twee voorafgaande dae gereën het, het die veldopsigters by Dumbe verseker dat die veld speelbaar is vir hierdie belangrike wedstryd.

Piet Retief wen die loot en kaptein Swazi Nel, kies sonder aarseling om eerste te boul. Met die akkurate boulwerk van Piet Retief verloor MOB hul eerste paaltjie reeds op 23 lopies en die tweede paaltjie val op 52 lopies. Anthony Yiollaris swaai die wedstryd met sy skitterende boulwerk. Hy neem 4 paaltjies, wat ‘n driekuns insluit, vir 15 lopies in 4 beurte.

Swazi Nel ondersteun hom mooi en neem 2 paaltjies vir 12 lopies in 4 beurte. Na 20 beurte eindig Middelburg op ‘n skamele 88/8. Piet Retief het self stadig begin met 19/2 maar hul kolfdiepte trek hulle deur. Andre Thomas eindig op ‘n fantastiese 53 van net 25 balle en tydens die 9de beurt behaal die span reeds die wenlopie om die wedstryd te beklink met 6 paaltjies.

Die veldwerkers het hulself ook goed van hul taak gekwyt om te help om hierdie wedstryd in die sak te steek. Estean Sauerman en Andre Thomas neem elk goeie vangskote. Charl Beneke, Alwyn Carstens en Leon Solms help ook om die kolwers op hul tone te hou. Krieket in Piet Retief getuig van professionaliteit, toewyding, harde werk en spangees. Piet Retief het gegroei tot ‘n reus in Mpumalanga.

Elke speler het ‘n positiewe bydrae in die span gemaak. Anthony Yiollaris eindig as een van die mees suksesvolle boulers in Mpumalanga met sy draaiballe, terwyl Andre Thomas sakke vol lopies geslaan het hierdie seisoen. Hy spog met 2 honderdtalle en 3 vyftigtalle. Met Swazi Nel se besielende leierskap en die ander spelers se lojaliteit, lyk die toekoms vir hierdie span rooskleurig.

Na afloop van die wedstryd was daar individuele spelers wat ekstra erkenning verdien het. Anthony Yiollaris is aangewys as beste bouler; Andre Thomas is beste kolwer: Estean Sauerman is gekies as beste veldwerker en Swazi Nel word aangewys as beste alomspeler. Tydens die dames se prysuitdeling het die volgende spelers toekennings ontvang: Micheila Eyberg is die beste bouler, Alicia Giles is die beste kolwer en Angelic Klingenberg is gekies as die beste alomspeler.

Micheila Eyberg, Alicia Giles en Jeanette van Biljon is gekies vir die Pumaspan. Baie geluk ook aan hul afrigter, Anthony Yiollaris, wat hierdie dames gehelp het om puik prestasies te behaal. Die bestuur glo en vertrou dat hierdie suksesse bepalend sal wees. Die dameskrieket groei mooi en daar is skitterende jong spelers in ons plaaslike skole. Met die Krieket Akademie wat plaaslik ook aan die gang is lyk die ontwikkeling van die spel baie goed.