Jeugweek sluit af met ‘n besoek van One Crown

Jeugweek sluit af met ‘n besoek van One Crown
Die lede van One Crown wat die Jeugweek in Piet Retief op Vrydag, die 3de Maart, afgesluit het

One Life Jeug in Piet Retief het ’n baie opwindende week gehad toe hulle ’n Jeugweek aangebied het vanaf die 28ste Februarie tot die 2de Maart, in Hoërskool Piet Retief se skoolsaal.

Die Jeugweek, genaamd “Metamorphis”, het gehandel oor hoe God binne-in elkeen van ons leef en dat ons aan Hom behoort. Die tema is opgedeel in drie aande waar die eerste afdeling “Meta” op Dinsdag, die 28ste Februarie, deur Franna du Toit bespreek is: Op Woensdag, die 1ste Maart, het William Wiggill “Morph” bespreek en op Donderdag, die 2de Maart, het Sheldon Hallis “(H)is” met die tieners bespreek.

Daar was omtrent ’n groot gedruis onder die tieners en elkeen wat dié Jeugweek bygewoon het, kan nie uitgepraat raak oor die ervaring nie. Sheldon sê dat dit vir die jeugleiers betrokke, nét so opwindend was en hulle kan met trots sê dat die hele week deur plaaslike mense georganiseer is. Dit was voorwaar ’n reusesukses!

Om die week af te sluit, het One Crown, ’n rock band, op Vrydag, die 3de Maart kom besoek aflê by AGS Fontana. One Crown is afkomstig vanaf Potchefstroom en die groep is in 2005 gestig. Die groep bestaan uit vier boesemvriende wat almal dieselfde passie vir musiek het en ook graag ’n positiewe verskil op die lewe van jongmense wil maak.

Hendri Hofmeyr, Werner Taljaard, Ryno Jansen en Lourens de Jongh tree al vir die afgelope agt jaar saam op en hulle beplan groot dinge vir die toekoms! Baie dankie aan elkeen wat betrokke was by die beplanning en organisering van die suksesvolle Jeugweek! Daar word uitgesien na nóg so spesiale geleentheid in die nabye toekoms.