Bedrywighede by Huis Immergroen

Bedrywighede by Huis Immergroen
Bedrywighede by Huis Immergroen

Daar was omtrent ‘n rits bedrywighede by Huis Immergroen die afgelope tyd! Eerstens, word mev. M. Becker verwelkom as ’n nuwe permanente inwoner.

Daar word gehoop dat u verblyf aangenaam sal wees en dat u sommer spoedig sal tuis voel. Die tehuis spog tans met ’n splinternuwe stoep wat grens aan saal C. Hiér kan daar na hartelus gekuier word terwyl die warm somerweer geniet word.

Baie dankie aan die bestuurslede van Huis Immergroen wat die inisiatief geneem het om die stoep aan te pas sodat die bejaardes die buitelug kan geniet sonder om in die direkte son te sit.

Op Dinsdag, die 7de Februarie het belangstellende inwoners ‘n entjie gaan stap, met behulp van die bekwame personeel natuurlik. Gesondheid en goeie oefening is uiters belangrik en hoe dan anders as om die lieflike natuurskoon te geniet en boonop oefening ook te kry!

Daar word eersdaags ‘n Alzheimersiektewerkswinkel by Huis Immergroen gehou. Die datum is nog nie bevestig nie, maar vir meer inligting hieroor, skakel gerus vir Ellen Koch by 017 826 4918.

‘n Drukkie is die perfekte geskenk; dit is presies die regte grootte vir elkeen en niemand gee om as dit teruggegee word nie! Kom gee gerus vir die inwoners ’n drukkie vir Valentynsdag – jy mag dalk net aangenaam verras word wanneer jy een, met liefde, terugontvang. Immergroen liefdegroete