agteruitgang van die dorp se publieke parke
So lyk die park gronde by Park Singel na 'n suksesvolle makietie

Die vinnige agteruitgang van die dorp se publieke parke laat almal koud en met die vraag, is dit ‘n mensereg om die publieke parke te mag besoek en te maak en breek soos jy wil, óf is dit van Gedurende November 2016, is daar twee keer berig oor die stand van sake van die dorp se publieke parke in die Excelsior Nuus.

In die uitgawe, gedateer 4 November, het ontstoke inwoners van die omliggende parke ‘n noodvergadering gehad met die burgemeester, eerbare raadslid mnr. V. Motha, op die 28ste Oktober. Die vergadering het gehandel oor die feit dat die burgemeester toestemming gegee het om die omheining (pale) te verwyder in al die dorp se publieke parke.

Op dié wyse kon besoekers met hulle voertuie toegang tot die parke verkry. Nóg ‘n artikel in die Excelsior Nuus, gedateer 18 November, lui dat die skielike verwydering van die kennisgewingborde in die publieke parke verregaande is en dat dit boonop enigiemand die reg gee om die parke te misbruik soos wat hulle goed dink.

Na aanleiding van albei die bogenoemde artikels, is die Mkhondo Munisipaliteit verskeie kere gekontak vir kommentaar en terugvoering aangaande die onderwerp asook wat die plan is om die dorp se parke veilig te bewaar. Tot en met hede, is geen terugvoering in die verband ontvang nie.

Ongelukkige inwoners het gedurende Desember foto’s ingestuur van hoe daar heerlik makietie gehou word in een van die parke (Park Singel). Op só wyse dat daar openbare vure gemaak is – tussen die pragtige plante – en nét so gelos is om maar vanself uit te brand. Nodeloos om te sê dat dié spesifieke bedding nou tot niet is.

Die kennisgewingborde het juis parkgangers in kennis gestel van wat toelaatbaar is en wat nie. Oop vure in ‘n publieke park is byvoorbeeld taboe, maar aangesien daar nie meer ‘n kennisgewingbord is wat dit duidelik aandui nie, kan daar maar gemaak word soos jy smaak, of hoe?

Die besoekers het natuurlik ook gebruik gemaak van alkoholiese verversings sowel as harde musiek – wat ook volgens die kennisgewingborde nie toelaatbaar was nie. Daarmee saam is die beddings en skadu’s onder die bome ook gebruik as ‘n publieke ablusieblok aangesien die park nie beskik oor mobiele fasiliteite nie.

Natuurlik is daar dan ook hope rommel agtergelaat nadat die partytjie uiteindelik doodgeloop het. Weereens, beskik die park nie oor asblikke nie en indien daar wel ‘n paar sou wees, wonder ‘n mens of die drankbottels en ander rommel vir gerieflikheidshalwe sommer maar net langs die asblikke te lande sou kom, in plaas van die moeite doen om dit binnein te gooi.

Daarna vertrek die partytjiegangers in hul voertuie, laat hul gemors net so agter en klim agter die voertuig se stuurwiel in – dít boonop onder die invloed ook! Dit los ‘n mens met die vraag, is dit elke ou se mensereg om die dorp se publieke parke te besoek, oftewel misbruik, aangesien dit elkeen se reg is om te kom en gaan waar hulle wil en dan te doen wat hulle wil, óf is hierdie verskynsel blote vandalisme? ‘n Beroep aan die gereelde partytjiegangers wat die publieke parke van die dorp besoek morsjors, tel op jou gemors! Geniet die parke, maar los die plek asseblief in dieselfde toestand as wat jy dit gekry het, op dié wyse kan ander inwoners ook die natuurskoon van die dorp se parke geniet. ‘n Voorstel – die installasie van mobiele ablusiefasiliteite sowel as asblikke in die parke behoort van die probleme op te los maar indien jy daarna nogsteeds jou nood teen ‘n boom se stam móét verlig, of jou drankbottel stukkend in ‘n blombedding los – behoort jy jou kop in skaamte te laat sak!