Skietklub
Skietklub

Praktiese Skietklub Nuus TOP 6! Dit is die aantal plekke wat die Skietpieties verlede Saterdag in Trichardt losgeskiet het.

Julle het reg gelees, ja. Piet Retief se skuts het die standaardklas heeltemal oorheers met die eerste ses plekke. JC Potgieter het op ‘n drafstap gewen, en alles sommer maklik laat lyk. Welgedaan JC, jou harde werk begin nou aangename resultate lewer. Ek kan nie wag om te sien wat jy op die komende Nasionale Kampioenskap gaan uitrig nie.

Ek voorspel dat daar ‘n hele paar bekende manne op hulle baadjie gaan kry. Hou aan met die harde werk, en daar is verseker ‘n groen baadjie in jou nabye toekoms! Die ander Pieties het soos volg geëindig: In die 2de plek was Kyle van Deventer, 3de was Denzil Venske, 4de – Paul Mouton, 5de – Johnny Naudé, 6de – Dawie de Bruin en Nic Stephansen was tiende.

Een van ons staatmakers, Johan Prinsloo, het meganiese probleme met sy pistool ontwikkel, en kon ongelukkig nie eers die eerste baan klaar skiet nie. Volgende keer sal die manne moet bontstaan wanneer sy wapen weer op al die silinders vuur. ‘n Paar naweke gelede het een van Suid-Afrika se toppi stool skuts , Springbok André van Tonder, ‘n kursus kom aanbied om ons skuts se skietvernuf ‘n bietjie (of is dit baie) op te knap.

Almal wat die kursus bygewoon het, het bevestig dat dit absoluut die moeite werd was. In sy afwesigheid wil ek weer vir André bedank vir die moeite wat hy gedoen het om sy kennis en ervaring met ons te kom deel. Die volgende byeenkoms is ons kluboefening op Saterdag, 1 Oktober, en daarna die ‘3- gun’ ligabyeenkoms te Ngodwana op 8 Oktober.

Belangstellendes is welkom om die kluboefening by te woon. Kontak gerus vir voorsitter Denzil by 083 625 1345 of tweede in bevel Dawie by 083 300 8588 vir enige navrae. Kom gee die gogga kans om te byt, dis ‘n lekker byt! Wederom, Lood.