Vlei nou rommelterrein

Vlei nou rommelterrein
‘n Onaangename prentjie onder die brug in Retiefstraat

Wat ‘n rommelterrein skande – rommel en vullis lê oral gestrooi . . . is dit dan hoe dit oral in ons vleie lyk? Onder die brug oppad Hoërskool toe (Smitstraat) lyk dit werklikwaar beroerd.

Die plante groei behoorlik die hele area toe, die stroompie water is gevaarlik vuil en die vullis bederf die natuurskoon. Onder die brug in Retiefstraat (oppad Ilanga House toe), lyk dit net so sleg en gehawend. Die brugreling is stukkend, rommel en bottels verstop die waterstroom en dit is regtig ‘n onaangename prentjie. ‘n Mens wonder hoe die vullis en gemors daar gekom het? Word dit uit ‘n voertuig daar afgegooi, swartsak en al, sommer net so oor die reling? Of is dit dalk voetgangers wat hulle verversingshouers, so in die loop, net daar “dump”.

Dit wil vir ‘n mens voorkom dat hierdie berge gemors net té veel van ‘n vullishoop is vir ‘n voetganger om dit te veroorsaak. Hierdie vullis besoedel die waterbronne. Wanneer daar wel goeie reën val en die strome begin vloei, blokkeer die rommel die vloei van die water, wat op die ou einde besoedeld in ons damme beland. Ons het mnr. Vusi Dube by Mkhondo Munisipaliteit, “Solid Waste” afdeling, gekontak sonder enige sukses sover.

Daar sal terugvoer gegee word in verband met hierdie saak sodra ons hom wel in die hande kry. Dalk kan ‘n mens deur die Munisipaliteit op ‘n manier die skuldiges op heterdaad betrap en hulle ‘n boete laat betaal? Indien daar enige gemeenskapslede is wat oplossings of idees het van hoe ‘n mens hierdie probleem kan oplos, kontak ons gerus sodat al die lede van Piet Retief koppe bymekaar kan sit en ons vleilande kan probeer red!